ʼn Praktiese metode om mense “dissipels van Jesus” te maak.

Hoe doen ons dit prakties? Hoe kan ons prakties mense om ons dissipels van Jesus maak?

Ek wil julle een so ʼn metode wys en leer vanoggend, wat oral oor die wêreld een van die mees suksesvolle metodes tans is.

Die metode sluit aan by dit wat ons in Lukas 10 lees as hier gepraat word van ʼn man of vrou van vrede”.

Wat eintlik hier staan, is dat wanneer ons deur God êrens neergesit word om Sy getuies te wees, dan moet ons terwyl ons die vier stappe van Lukas 10 volg, die hele tyd op die uitkyk wees vir hierdie man of vrou van vrede.

Dit is nou daardie man of vrou of tiener met wie God se Gees al lankal op allerlei maniere besig is, in so ʼn mate dat hy of sy stadig maar seker, hierdie geestelike honger en dors begin ontwikkel het na die dinge van God.

Dit kan op baie maniere na vore kom, soos ʼn begeerte om meer oor die Bybel, of oor Jesus, of oor God, of oor ware liefde uit te vind. Miskien wonder hulle oor hoe ʼn mens werklik gelukkig kan wees.

Hierdie manier wag vir hierdie “regte vraag” van hierdie man of vrou, want die oomblik as dit kom, dan weet jy dat hierdie die geleentheid is waarop jy gewag het.

Dit is dan wat jy aanbied om hom of haar te help om antwoorde op hulle vraag of behoefte te vind.

Jy sê vir hulle dat jy oortuig is dat die werklike antwoord op hulle vraag of vrae in die Bybel te vinde is. Jy weet dit, want die God van die Bybel belowe om self met mense te praat as hulle die Bybel met die regte hart en gesindheid lees.

Daarom vra jy die persoon om saam met twee tot maksimum vier van hulle vriende, week na week rondom die Bybel saam met jou byeen te kom, waarin julle die Here gaan vertrou om self met hulle te praat en om self hulle vrae te beantwoord.

Al wat jy in die proses gaan doen, is om vir hulle ʼn roete-kaart op die tafel te sit met ʼn klompie Skrifgedeeltes daarop wat hulle kan gebruik om week na week saam te luister na wat God self daaruit vir hulle gaan sê.

Ons glo immers dat die Bybel “geïnspireerde Woord van God is” (2 Tim. 3:14-17) en dat dit “lewend en aktueel is”, want God is self daardeur met mense besig.

Genoeg gepraat! Kom ons raak prakties.

Sien jy kans om dit self te probeer? Het jy ʼn paar vriende of miskien persone daar by jou werk, of waar jy swot, of op die plaas, wat al op baie maniere aangedui het dat hulle graag self wil beleef hoe die lewende God self met hulle praat?

Sou jy belangstel in so iets, of om so iets te gebruik in die lewens van mense waar jy werk of wat jy ken?

Wel, gaan dan na ʼn webblad wat ek spesifiek geskep het om vir jou en hulle hiermee te help, en waar jy alles kan lees wat jy hieroor nodig het om te weet.
Hier is die skakel daarheen:

JOURNEY OF DISCOVERY-WEBBLAD

Dan het ek ook ʼn App geskep om vir jou verskillende roete-kaarte van Bybelgedeeltes te gee wat jy kan gebruik in so ʼn “Discovery Bible Study” (want dit is wat dit in Engels oor die wêreld genoem word).

Laai die volgende app op jou slimfoon af deur die volgende op jou slimfoon se internet-blaaier in te tik:

App of Toep - DISCOVERY BIBLE STUDY