Image

Luk. 5:38,39:  Niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie. As hy dit sou doen, sal die nuwe wyn die velsakke laat oopbars. Dan is die wyn vermors en die sakke daarmee heen. Nee, nuwe wyn moet in nuwe velsakke gegooi word. 

Joh. 17:21:  Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.

Oor die wêreld is God besig om Sy mense se prentjie van die Kerk te verander - Klik hier om verder te hieroor te lees 

Die Here het ook my prentjie van Sy Kerk/Ekklesia (soos ek dit deesdae eerder wil noem) verander. Voorheen was dit maar die tipiese Gereformeerde prentjie van ʼn tipiese NG-dominee. Maar deesdae lyk daardie prentjie van my heel anders. Lees gerus verder oor die bediening in die Ekklesia of oor Nuwe Wynsakke.

Soek jy so 'n gemeente daar in jou omgewing? Die Gemeenskap van die Nuwe Testamentiese Gemeentes  is 'n klompie sulke gemeentes en byeenkomste van gelowiges wat "nuwe velsakke" wil wees.

Die Gemeenskap van Nuwe Testamentiese Kerke/Bedieninge ( http://gntk.co.za/ )is die sambreel organisasie van Nuwe Testamentiese gemeentes waarvan ek die voorsitter is, en waaronder ek en ander as huweliksbevestigers by Dept van Binnelandse Sake geregistreer is as huweliksbevestigers.

Image

Oor God se besig-wees

Oral oor die wêreld is die Here Jesus besig om God se mense se prentjie van die Kerk en kerk-wees te verander. Natuurlik kry ons nog miljoene gelowiges wat nog afsonderlik in die sowat 40 000 verskillende "kerke" byeenkom, asof hulle nie werklik familie van mekaar is nie.

Maar dit is besig om te verander. Baie volgelinge van Jesus word al hoe meer oortuig dat al de volgelinge van Jesus eintlik net aan een Kerk behoort, naamlik die Kerk van Jesus, of soos ek dit eerder wil noem met die Griekse term vir Kerk, Ekklesia van Jesus. Jesus self het gesê Sy Liggaam is Een! En dit is wat ons ook glo.

Hierdie Een Ekkesia kom oral op aarde op verskillende plekke op verskillende maniere byeen. Om daar plaaslik vir mekaar werklik 'n liefdevolle familie te wees, wat vir mekaar liefhet, versorg, bedien, bemoedig en vermaan, maar wat dat ook handevat en saam die res van die gemeenskap om ons in Jesus se Naam met die Evangelie, die gawes van die Gees en die liefde van Jesus te bedien soos Jesus ons lei deur Sy stem.

George Barna praat in sy boek, Revolution, oor hierdie paradigma-verskuiwing wat aan die plaasvind is as werklik 'n rewolusie. Dit veroorsaak tans ook wêreldwyd 'n reuse "uitbeweeg" uit gevestigde kerke en denominasies, na ekklesia wat oral byeenkom, as deel van die een wêreldwye Ekklesia van Jesus.

My naam is Dr Christo Nel, en ek is een van die baie volgelinge van Jesus wat hierdie paradigmaverskuiwing ondergaan het waarvan George Barna praat.

God het deur die werking van Sy Gees my hele prentjie van die kerk of ekklesia verander, asook my verstaan van my rol en bediening in hierdie Ekklesia van Jesus.

Vir meer as 14 jaar was ek dominee in die NG Kerk waar ek met groot vreugde Jesus gedien en gevolg het. Maar in 1993 het die Here my uitgedaag om Hom te volg "uit die NG Kerk-sisteem uit" en toe te laat dat Hy my kon gebruik waar en soos Hy wil.

Dit het prakties beteken dat ek moes bedank as NG-dominee en nooit weer 'n vaste salaris/traktement sou ontvang nie. God sou my self versorg deur donasies van Sy kinders waar Hy ons gebruik om hulle te bedien.

So is dit dan nou reeds sedert 1993 wat die Here ons in alle dele van Sy Liggaam gebruik om Sy mense toe te rus vir bediening.

Lees gerus meer oor ons storie en getuienis oor God se besig-wees met ons in: ONS STORIE.

Ons getuienis

En niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie. As hy dit sou doen, sal die nuwe wyn die velsakke laat oopbars Dan is die wyn vermors en die sakke daarmee heen. Nee, nuwe wyn moet in nuwe wynsakke gegooi word. (Luk 5:38,39)

Dit is die vers wat die Here gebruik het om vir Christo en Hetta Nel te sê dat Hy hulle op 'n nuwe manier onder veral Afrikaanssprekende mense wil gebruik.

Voorheen was dit as pastorie-egpaar in hoofsaaklik die NG-Kerk, maar nou wou die Here hulle onder Sy mense wat Afrikaans gepraat het in Sy hele Liggaam gebruik. Hulle sou nog baie in NG-gemeentes daarna bedien, maar ook in baie ander dele van die Liggaam voortaan bedien.

Sedert 1992 was die Here besig om "nuwe wyn-waarhede" aan Christo en Hetta self te bedien. Dit sou daartoe lei dat hulle, saam met hulle dogters gedoop sou word as gelowiges terwyl hulle nog in die NG Kerk in bediening was. Maar God wou nie dat hulle op hierdie stadium met die NG Kerk 'n geskil rondom die doop hê nie. Daarom beveel die Here Christo om dadelik te bedank as predikant in die NG Kerk.

Hy wys ook vir hulle 'n groep volgelinge van Jesus wat nie meer tuis was in die tradisionele NG-gemeentes in Potchefstroom, waar hulle in bediening was. Hy beveel hulle om hierdie groep gelowiges te begin bedien in 'n vernuwings gemeente.

So word 'n vernuwings gemeente in Potchefstroom op 31 Okt. 1993 geplant in die Elgro Hotel, wat later die Elgro gemeente sou word. Vandag staan dit bekend as die Duet-gemeente, wat die grootste gemeente tans in Potchefstroom geword het.

As jy dr Christo en Hetta se hele storie verder wil lees, kliek gerus op: ONS STORIE.

Image

Bediening in die Ekklesia

In Ef. 4:11 tot 16 staan die volgende: En dít is die "gawes" wat Hy "gegee het": apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars.

Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus.

So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.

Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ‘n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.


Gawes van die Gees

Daar is verskeie gedeeltes in die Bybel waar God se Gees ons meer oor die bediening van die gawes van die Gees leer. Lees maar net dit wat daar in 1 Kor. 12:7 tot 12 staan:

Aan elkeen afsonderlik word ‘n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal.

Aan die een word deur die Gees die gawe gegee om ‘n woord van wysheid te praat, aan ‘n ander ‘n woord van kennis deur dieselfde Gees; aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur die één Gees.

Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan ‘n ander die gawe om te profeteer, en aan nog ‘n ander die gawe om tussen die geeste te onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan ‘n ander om dit uit te lê.

Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik ‘n gawe uitdeel soos Hy wil.

Net soos die liggaam ‘n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus.

Toerusting

Ons opdrag is om toerustings materiaal te verskaf om God se mense toe te rus vir bediening. Daarom is deel van my lewensroeping om spesifiek geskikte toerustings materiaal beskikbaar te stel vir Afrikaanssprekende mense wat kom uit tradisioneel Gereformeerde en Nederduits Gereformeerde teologiese agtergronde wat hulle kan help om te ontdek waar in die Bybel kan hulle van hierdie nuwe dinge ontdek wat die Here aan Sy Ekklesia wêreldwyd openbaar.

Gaan loer op WINKEL en E-BOEKE op hierdie webblad vir meer inligting.

Image

Ouderlinge en ander bedieninge

Soos wat Jesus Christus deur Sy Gees 'n pad stap met Sy mense is dit Sy hart om hulle as "Sy getuies" te gebruik. Hyself, as die Doper met die Gees rus hulle volgens Sy wil toe met die verskillende gawes van die Gees in verskillende mates, om hulle dan volgens Sy groter plan te gebruik in Sy Liggaam en in die res van die wêreld.

Almal is in bediening

Elke gelowige volgeling van Jesus is in bediening. Daarom het Jesus Sy Gees gegee om in elkeen van ons te woon om ons te lei met Sy stem. Maar is Sy hart om ook Sy Gees "op ons" te gee om elkeen van ons te salf en toe te rus met die gawes van die Gees.

Daarom is dit so belangrik dat Sy mense toegerus moet word vir hulle bediening.

Volwassenes en kinders het 'n plek

As 'n mens leer hoe belangrik kinders in God se oë is (kyk maar Mat. 18:1-14 byvoorbeeld) verstaan jy dat Jesus Christus elkeen van ons wil gebruik as ons maar net sensitief is vir Sy stem en Hom toe laat om ons te gebruik.

Nuwe Wynsakke

Die Ekklesia is wêreldwyd een reuse FAMILIE IN JESUS en deel van die EEN EKKLESIA/KERK van die Here Jesus.

Hulle bestaan uit elke gelowige wat in geloof gekies het om te glo dat Jesus Christus deur Sy Bloed, Kruis en Opstanding alles gedoen het wat nodig was om ons met God te versoen.

Lokaal kom hierdie gelowiges in families van gelowiges van alle groottes byeen.

Daarom sien ons hulle sit in die sowat 30 000 kerk sisteme oral oor Suid-Afrika en nog meer kerk sisteme oor die wêreld. Maar ons sien ook miljoene gelowiges wat êrens langs die pad uitgeklim het uit hierdie kerk sisteme en in nuwesoortige geloof-families (of “nuwe wynsakke”) leer om met mekaar in Jesus ʼn pad te stap.

Byeenkomste en families

In elke dorp in Suid-Afrika kom Jesus se volgelinge op verskillende plekke en maniere byeen.

Soms is dit nodig om ook ’n informele struktuur te skep tussen gemeentes van die Here om leiers van die gemeentes in staat te stel om met erkenning van die staat bv. ook huwelike te kan bevestig as geregistreerde huweliksbevestigers. Vir hierdie rede het ons so ’n geregistreerde netwerk van gemeentes wat erken word deur die Departement van Binnelandse Sake nl. DIE GEMEENSKAP VAN NUWE TESTAMENTIESE KERKE/GEMEENTES.

(Vir die leiers wat hierdie inligting nodig het, blaai gerus na hierdie deel van die bladsy om meer oor DIE GEMEENSKAP VAN NUWE TESTAMENTIESE KERKE/GEMEENTES te lees).