Soek My Koninkryk en My Geregtigheid vir jou vir hierdie nuwe seisoen

Ek het weer opnuut by die voete van Jesus, met net Sy Woord in my hande en met Sy Gees se stem in my hart, my plek in God se groter plan beter probeer verstaan vir hierdie seisoen en dit waarmee Hy nou besig is.

Soos ’n Salomo het ek opdrag gekry om “die huis van die Here” te help bou. En solank ek besig is om die aanwysing vir hierdie huis en die bouplanne vir hierdie huis in die fynste besonderhede te volg, sal die Here heeltyd by my wees en vir my voorspoed gee. (2 Kron. 1:11,12)

Daar by Sy voete, in die lig van die kruis en die opstanding, het ek ontdek dat “die huis van die Here” in die nuwe bedeling, onder die Nuwe Verbond, waar Sy Gees God se mense lei, nie bestaan uit kerk- en godsdienstige sisteme en -strukture nie.

Hierdie sowat 30 000 “kerke en godsdienstige sisteme en -strukture” (net hier in Suid-Afrika alleen), is bloot mensewerk. Jesus self, in Sy heerlikheid, het dit nie gebou nie, en Hy het dit nie beveel vanuit Sy Woord nie.

Wag, wag! Jy het dalk net te vinnig die twee sinne hierbo deur gelees! Stem jy saam met wat ek hier sê? Is jy ook so oortuig daarvan soos ek?

Indien jy nie saam stem nie, wil ek jou uitdaag om self voor die Here te gaan sit en dit met Hom te gaan bespreek.

Onthou ons praat nie hier oor die Ekklesia of God se gelowige volgelinge wat binne hierdie 30 000 “kerke of kerksisteme” sit nie!

Wat ek hierbo skryf, is dat hierdie ‘houers”, hierdie sowat 30 000 “kerke en kerkstrukture”, met al hulle geboue, kerkordes, eie name en belydenisse, deur mense uitgedink is, en nie deur God en Sy Gees geïnisieer is nie.

Daarom is dit ook nie die “wynsak” waarin Hy Sy Ekklesia, en alles wat Hy deur die Ekklesia hier op aarde wil doen om die Koninkryk van die Hemel hier ʼn werklikheid te maak, kan akkommodeer nie.

Soos wat die Fariseërs, Sadduseërs, wetgeleerdes en Jode eens ontdek het, so is ek oortuig, is God se mense besig vandag ook te ontdek dat God nie meer in die fisiese tempels (“kerkgeboue” van allerlei aard) woon en werk nie. (Mat. 22:29)

God woon nou in ’n tempel wat nie met mensehande gebou word nie, maar wat deur Sy Gees en onder die leiding van Sy Gees gebou word, naamlik in Sy Ekklesia, in Sy gelowige volgelinge en kinders.

Hulle is nou Sy tempel (1 Kor. 3:16). Hulle is nou “Sy Kerk”.

In hierdie seisoen moet ons dus opnuut ontdek dat dit wat mense “kerke”noem, nie die heerlikheid van ons Koning en Here kan akkommodeer nie.

Soos ’n Salomo, daar in 1 Kron. 22, het die Here my weer bedien met bonatuurlike insig en wysheid – want ek mag nie in hierdie nuwe seisoen staatmaak op wat ek weet of ken nie (= eie insigte).

Hy het my opnuut bewus gemaak dat ek (en Sy mense) net kan staat maak op Sy Gees wat ons met bonatuurlike insig en wysheid moet bedien.

Hy alleen is ons Here en ons Koning. Hy alleen moet ons ook hierin lei. Hy is immers die Argitek van wat nou moet gebeur. Daarom het ons die plan daarvoor uit die hemel self nodig.

Soos ’n Salomo moet ons ontdek dat ons net mag doen wat ons aangesê word om te doen (v 13).

Soos ’n Salomo moet ons opnuut ontdek dat ons daarom moet sterk wees en vasstaan, gefokus op ons roeping in die verband.