Maak ons as U Ekklesia die deur waardeur U koninkryk kan invloei

 

Ons is besig om met mekaar te gesels oor hoe dit prakties lyk waar ons God se Koninkryk en wil in die markplek soek.

Dit sal baie help as jy net weer verlede keer se Slukkie Nuwe Wyn vinnig deurlees, want ek wil baie graag ʼn bietjie verder daaroor met jou gesels.

Het jy dit gedoen?

Kom dan, en dan neem ek jou na dit wat Jesus daar in die volgende gedeeltes gesê het.

Mat. 16:18-19

“En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

Mat. 16:21-23

“Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word.

Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: "Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie."

Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: "Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ʼn struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê."

Verstaan jy waarom Jesus, juis hier, kort nadat Hy in verse 18 en 19 gesê het wat Hy gesê het, toe vir Petrus met hierdie woorde stilgemaak het?

Wat Jesus dus hier sê vir ons as Sy volgelinge, veral in die markplein, is dat ek en jy letterlik die deure vir die hel, sy leuens, vir siekte, vir dood en vir ander demoniese realiteite ooptrek en oopmaak elke keer as ons saamstem met die vyand!

Sjoe, miskien moet jy net weer hierdie paragraaf ʼn keer stadig deur lees en oordink!

Om te dink: ek bekragtig en bemagtig elke keer die vyand en sy demoniese magte elke keer as ek vanuit 'n menslike perspektief of vanuit menslike wysheid dink of praat.

Dan word ek 'n deur, of maak ek die deure oop vir die vyand om in te kom om te kom steel, of om dood te maak of om te vernietig!

2 Kor. 10:4,5

G‘n wonder nie God se Gees kom in 2 Kor. 10:4 en 5 en, as deel van God se vernuwing van ons denke, en sê die volgende:

“Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.”

Mat. 16:19

Sien jy nou, dit is presies waarom Jesus daar in Mat. 16:19, vir ons die volgende sê:

Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly."

Dit was die fokus van Jesus se bediening en nou is dit ons opdrag en die outoriteit wat aan ons toegeken is as die Ekklesia.

Verstaan jy werklik wat dit beteken?

Dit wat ek en jy hier op aarde, in ons eie lewe, of in ons besigheid, bind en die deure voor toesluit, gebeur!

Ons taak is dus om seker te maak van presies hoe sake in die verband in die hemel staan, en om dan dit rondom ons te laat korreleer daarmee.

Wat ook al die realiteit in die hemel is en wat vry is om daar te werk, daarvoor moet die sluise ook hier op aarde oopgetrek word.

So moet ons bv. die gees van ongeregtigheid, van desepsie, van valse aanklagte, ens. bind, maar die sluise ooptrek sodat geregtigheid en waarheid kan deurbreek!

Ek wil hierdie deel afsluit met ʼn paar slotopmerkinge:

Hoe meer en meer God se Koningheerskappy hier op aarde deurbreek, hoe meer sal ons ook van God se heerlikheid hier sien en ervaar.

En sal ons as Sy Ekklesia hieroor openbaring ontvang sodat ons as Sy ambassadeurs hieroor kan getuig en dit ook profeties kan proklameer waar nodig.

So sal ongekende wonderwerke en kragte ontketen word wat in lyn is met wat ons in die hemel gesien en gehoor het!