Pasop vir die soort suurdeeg

 

In Mat. 13:33 lees ons:

“Hy het hulle nog ʼn gelykenis vertel: "Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat ʼn vrou gevat en in ʼn groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.”

In Markus 8:13-21 praat Jesus weer oor suurdeeg, maar hierdie keer oor twee ander soorte suurdeeg, en die keer in ʼn negatiewe sin daarvan. Ons lees:

“Die dissipels het vergeet om brood saam te vat; hulle het net een by hulle in die skuit gehad.

Jesus het hulle toe gewaarsku: Pas op, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes.”

Gaan lees verder die stukkie in jou eie Bybel en dan sal jy sien dat Jesus hulle herinner aan die gebeure waarvan ons laas gepraat het in Markus 6 waar Hy die brood en die vissies vermeerder het en hulle gebruik het om bykans 15 000 mense kos te gee.

Wat bedoel Jesus as Hy hulle waarsku teen “die suurdeeg van die Fariseërs” en “die suurdeeg van Herodes”?

Soos wat die realiteit van die Koninkryk van die hemel ons verstand en gedagtes, en ons manier van lewe ook op die markplein moet deursuur en ingrypend verander, so is daar ook twee ander soorte suurdeeg wat ons manier van dink en ons lewe ingrypend negatief kan beïnvloed.

Kom ons gesels hierdie keer net oor “die suurdeeg van die Fariseërs”.

(Volgende keer gesels ons oor die suurdeeg van Herodes.)

Jesus verduidelik wat Hy hiermee bedoel daar in Markus 12:24 as Hy vir die Fariseërs sê:

“Is die rede waarom julle dwaal, nie juis dat julle nie die Skrif ken nie en ook nie die krag van God nie?”

Dit gaan dus hier oor tipiese godsdiens of godsdienstige mense wat skynbaar ʼn verhouding met God het, en selfs groot gedeeltes kan aanhaal uit die Bybel vir ander, maar omdat hulle geen persoonlike liefdesverhouding met die God van die Bybel en met Jesus as Koning en Verlosser het nie, ken hulle nie werklik die Bybel nie en ken hulle beslis nie die werklikheid van ʼn lewende God wat besig is om iets van die hemel hier rondom ons op aarde in Sy krag en genade te laat deurbreek nie!

Ons kan in dieselfde asem ook hier praat oor Evangeliese Christene wat passievol is oor die Woord en oor die Here, maar tog steeds glo dat die buitengewone gawes van die Gees en die wonderwerkende God nie meer vandag werk nie maar opgehou het met die totstandkoming van die Kanon, of Bybel in die vorm wat ons dit vandag het.

(En asseblief, moet nie dink dat daar nie meer mense is wat so dink nie! Vir die van julle wat in Suid-Afrika woon en uit ʼn tipies Afrikaanse gereformeerde agtergrond uitkom: Dit is die amptelike standpunt van tipiese gereformeerde kerke in Suid-Afrika!)

Dit is ook die manier van dink wat veroorsaak dat baie ernstige en opregte volgelinge van Jesus magteloos staan by die siekbed van mense! Veral as ons soos die dissipels daar in Joh. 9:2, vir Jesus wil vra: “Is hierdie persoon siek as gevolg van sy eie sondes of is hy siek as gevolg van dit wat sy ouers of voorouers gesondig het?”

O, mag God deur Sy Gees verlos van hierdie manier van dink en ons bekragtig met die waarheid van die Evangelie van die Koninkryk!