So het Jesus se strategie gelyk!

Ons is besig om te kyk hoe Jesus se strategie en plan gelyk het om oral rondom Hom sigbare resultate agter te laat wat getuienis kan wees dat die Koninkryk van die hemel werklik hier op aarde deurgebreek het!

Almal wat wil, moet dit kan sien dat hier nou iemand anders in beheer is.

Daarom lyk dit nou hier anders as elders en daarom word dinge hier anders gedoen as elders.

Omdat die verrotting en korrupsie in Jesus se tyd veral bo, in die topstrukture van die geestelike Joodse leiers gelê het, was Jesus se strategie om die inkomste-strome na hulle toe en na die tempel toe af te sny.

Daarom het Hy begin om die belastinggaarders te bedien en te red, want hulle was kop en een mus met die korrupte godsdienstige leiers en was van die belangrikste toevoer-kanale wat geld laat stroom het na die tempel se bankrekening toe. Dit is waarom Jesus Levi, een van die topleiers onder die belastinggaarders, geroep het om Hom te begin volg, maar onmiddellik daarna sy Latynse Romeinse naam verander het na Matteus.

Dieselfde Levi het saam met hom byna ʼn honderd ander belastinggaarders na sy huis genooi die dag toe Jesus kom kuier het. En hulle het weer later ander gebring. En almal van hulle is gered en het ambassadeurs en tuinslange geword van ʼn ander koninkryk as die een wat hulle voorheen gedien het.

Toe red Jesus Saggeus, en dieselfde gebeur ook rondom hom.

Onthou die groter prentjie en die strategie van Jesus!

Die volgende deel van Jesus se strategiese plan was om die mense gesond te begin maak, maar sonder om vir hulle geld daarvoor te vra.

Ek weet nie of jy onthou nie, maar destyds, in Jesus se tyd, was dit godsdienstige leiers ook die dokters van hulle tyd. Mense het na hulle toe gekom in die hoop dat hulle gesond sal word. Soos daardie vrou wat aan bloedvloeiing vir jare en jare gely het. En oor die jare sakke en sakke vol geld betaal het vir die “dokters” maar nooit gesond geword het nie!

En hier kom Jesus, die nuwe Koning van ʼn nuwe koninkryk, en maak almal wat siek is, gesond, verniet!

En nadat Hy hulle gesond gemaak het, stuur Hy hulle na die tempel toe en na die priesters toe om vir hulle te gaan “be-wys” dat hulle nou gesond is sonder dat hulle eers daarvoor betaal het.

So word nog ʼn inkomste-stroom na die tempel toe, toegestop!