Gebruik God se model vir die ekonomie vir vandag

 

Die afgelope tyd het ons vir mekaar uit die Woord gewys hoe Jesus baie strategies maar ook baie prakties die realiteit van die Koninkryk van die hemel wat ook nou hier op aarde is, in die markplek en in die ekonomie begin bedien het in die tyd wat Hy mens was hier op aarde.

Nou is die vraag natuurlik: Hoe kan ons hierdie model van God vir die ekonomie vandag rondom ons gebruik in die markplek en wat ons daar moet doen as ambassadeurs van hierdie nuwe Koninkryk?

Hoe kan ons midde al die gierigheid, selfsug, korrupsie, misdaad, bedrog, uitbuiting en menslike lyding prakties die goeie nuus van die Koninkryk en die lewe en oorvloed wat dit tot gevolg kan hê, bedien?

Hoe skep ʼn mens ʼn alternatiewe kultuur in die markplek wat nie gedryf en gemotiveer word deur gierigheid en selfgesentreerdheid nie, maar wat eerder omgee, ware liefde en mededeelsaamheid kommunikeer?

As ons werklik die beloftes en woord van Koning Jesus glo, oor lewe en dit in oorvloed wat volg as ons Hom en Sy metodes volg, gaan ʼn ekonomie waar die kultuur en dryfkrag van werklike omgee en bereidheid om met ander te deel, ʼn plek word waar almal wat besigheid doen, voordeel trek en seën en groei beleef, in plaas daarvan dat net sommige voordeel trek en die res die een of ander tyd bankrot word en in armoede verval.

Midde ʼn baie siek ekonomiese en sosiale sisteem wat gedryf is deur gierigheid en selfgesentreerdheid, het Jesus vir ons in Matteus 24 en 25 ekonomiese beginsels kom neerlê van hoe lyk ʼn nuwe nasie en generasie wat voor die Regterstoel van God eendag onder “die skape” geklas gaan word en God se ewige beloning gaan ontvang.

Dit gaan sakemanne en -vroue wees wat daar in die markplek, as ek honger is, bereid is om my te voed; as ek dors is, vir my iets gaan gee om te drink; as ek naak en sonder klere is, vir my iets gaan gee om aan te trek; as ek dakloos is, vir my ʼn dak oor die kop gaan gee; as ek in die tronk is, my kom besoek.

So, sê die nuwe Koning wat besig is om die Koninkryk van die hemel hier op aarde ʼn werklikheid te maak, so lyk dit in die markplek waar die koninkryk begin deurbreek!

Maar, sê dieselfde Jesus, aan diegene wat daar in die markplek maar net soos die res van die wêreld om hulle gierig en selfgesentreerd besigheid doen, julle wat niks aan die nood om julle doen nie, julle is gedoem en julle uiteinde is die hel!

Het jy gesien wat die verskil volgens Matteus 24 en 25 was tussen diegene wat eendag voor die Troon van God as skape geklassifiseer gaan word en diegene wat eendag as bokke geklassifiseer gaan word?

Die enigste verskil tussen hulle gaan wees dat diegene onder die bok-nasies, nie daar is omdat hulle groter sondaars was as die res nie! Nee, hulle is deel van die bok-nasies net omdat hulle niks gedoen het om ʼn verskil te maak aan die nood en lyding wat hulle elke dag rondom hulle in die markplek gesien het nie!

Vriende, daar is dus nie vir my en jou, as volgelinge van Jesus, enige ander opsie in die markplek as om Jesus en Sy model vir die ekonomie te volg nie! Daar is eenvoudig nie vir ons ʼn opsie om niks te doen of net aan te gaan soos voorheen nie!

Ons kan nie net staan en toekyk, terwyl al hierdie seer en lyding en onreg rondom ons in die markplek gebeur nie.

Daarom sal ons moet leer hoe om as ambassadeurs van die Koninkryk Koning Jesus en Sy model te volg in besigheid.