Profetiese woord vir 2023 en verder - Deel 1 - Here, maak my oë oop dat ek werklik kan sien wat aangaan!

 

Deel 1 – Here, maak my oë oop dat ek werklik kan sien wat aangaan

Ek het vir die Here uitgevra oor waarmee Hy in hierdie seisoen besig is in die lewe van Sy kinders.

Dit is wat ek gehoor het. Natuurlik, soos altyd, wil God self met jou praat en Sy hart en planne aan jou openbaar. Daarom, toets wat ek gehoor het, soos God self deur Sy Gees ons leer daar in 1 Tess. 5:19-24.

Die Here herinner my daaraan dat die nuwe Joodse jaar aangebreek het met Rosh Hashanna wat hierdie keer die 25,26 September 2022 aangebreek het.

Dit is die Joodse jaar, 5837, die keer. Die seisoen van Pei, van oop deure, waarin God inkom om alles te verander, want niks is vir Hom onmoontlik nie.
Dit is die seisoen van oop monde, waar mense weer ontdek wat die krag is as ons met ons monde, kliphard aan onsself en aan ander om ons, begin sê en na-sê wat die lewende God self in Sy Woord aan ons belowe en sê. Wat Hy sê en belowe, staan immers vas, want Hy kan nie lieg nie!

Die Here neem my toe na Genesis 28 waar ons Jakob kry, besig om te vlug vir sy lewe, want hy het sy broer ingedoen en hy soek sy bloed. En soos wat Jakob hardloop, begin hy alles wat hy het en met hom saamgeneem het, stukkie vir stukkie langs die pad los. Tot dit uiteindelik net hy is, net met die klere aan sy lyf, wat oor is.

Teen laataand maak hy vir homself ʼn gaatjie in die sand, soos wat ʼn mens in die woestyn doen as jy wil gaan slaap. Dan vat hy ʼn klip wat darem lyk of dit ʼn kussing kan wees, draai dit heelwaarskynlik toe met ʼn jas of iets soortgelyks, sodat dit darem sag genoeg kan wees om op te slaap.

Dan gaan slaap hy.

Skielik, êrens daardie nag, sien hy hierdie bonatuurlike visioen of droom.
Hy sien hierdie leer, met engele wat op en af teen daardie leer opklim en afklim. En bo-aan die leer sien hy God self.

Die Here het aan my gesê terwyl Hy my dit wys, dat dit is wat in elkeen van ons se lewens elke dag, elke oomblik van die dag, in hierdie nuwe seisoen aan die gebeur is. God self, in Sy almag, soewereiniteit en genade, is met elkeen van ons besig. Hy gee letterlik Sy engele opdrag om die verhoog in elkeen van ons se lewens gereed te maak vir dit wat Hy, as God, daar wil doen.

Vriende, kan jy dink wat kan in jou gebeur as die Here jou oë oopmaak om dit te sien gebeur in jou lewe, elke oomblik, 24/7! Kan jy dink hoe dit jou kan bemoedig en troos en versterk!

Dit help ʼn mens glo wat daar in Rom.8:28 staan. Dat hierdie God, ongeag wat ook al in jou lewe gebeur of gebeur het of nog gaan gebeur, dat Hy dit êrens gaan maak inpas sodat dit tot jou voordeel, jou groei, jou welwese en jou geluk uiteindelik gaan bydra!

Wanneer ons dit sien en dit werklik begin glo, gebeur daar iets met ons.

Dit is dan wat ons besef soos Jakob besef het: God is werklik self hier by my, op hierdie plek, in hierdie situasie! En dit is altyd waar! Dit geld nie net vir sekere, spesiale oomblikke in my lewe nie. Die lewende God, vir wie niks onmoontlik is nie, wat my Vader in Christus Jesus geword het, wat vir my so liefhet dat Hy Sy Seun se lewe gegee het sodat ek kon lewe, hierdie God, is hier by my en met my besig!

Ek weet nie wat dit aan jou doen as jy dit werklik besef en begin glo nie!
Hoor maar self wat dit aan ʼn Jakob, daar in die Ou Testament, waar hy nie eers ʼn tiende geweet en verstaan het van God se groter plan as jy nie, in reaksie sê:

Gen. 28:20-22

“Jakob het toe ʼn gelofte afgelê en gesê: ‘As U, o God, by my is en my beskerm op my reis en vir my kos en klere gee, sodat ek behoue terugkom by my ouerhuis, sal U, Here, my God wees.

Hierdie klippilaar wat ek regop gesit het, sal ʼn tempel wees, en van alles wat U my gee, sal ek vir U ʼn tiende gee.’”

Ek vra weer vir jou: Hoe gaan jy reageer?

Hoe gaan jy reageer as jy weet dat God besig is om iets van die Koninkryk van die hemel daar rondom jou, in jou lewe, in jou huwelik, in jou gesin, in jou besigheid of op jou plaas, te laat deurbreek?

Ja, dat jyself êrens in Sy groter plan inpas en dat die Here jou wil gebruik om dit te laat gebeur. Wat gaan jy beskikbaar stel en begin gee sodat dit kan gebeur?