Ons moet leer om besigheid te doen op God se manier

 

Ek glo dat God se Gees vir ons strategieë gee oor hoe om besigheid op God se manier daar in ons unieke plaaslike gemeenskap met sy unieke behoeftes en nood te doen.

Maar dan as God se “skaap-nasie”, in Mat. 24 en 25 se taal, in diens van die Koninkryk van die hemel hier op aarde! Nie net plaaslik nie, maar ook wyer, ja, selfs wêreldwyd.

Wat selfs meer belangrik is as dit, is dat as ons waag om in besigheid of in die boerdery dinge te doen soos wat Koning Jesus ons gewys en geleer het, gaan ons prakties beleef wat God in Sy Woord belowe het.

Naamlik, dat wie Hom hierin gehoorsaam volg en dinge doen soos wat Hy hulle beveel het, gaan beleef hoe dit God se seën, voorspoed en groei voor hulle oë alles laat blom soos nog nooit voorheen nie! God belowe dit immers en Hy kan nie lieg nie!

Dit gaan juis hierdie sigbare voorspoed, seën en groei in jou besigheid wees wat vir almal in markplek rondom jou ook sigbaar gaan wees en wat juis vir jou en jou besigheid meer invloed en meer impak gaan gee. Dit gaan juis dit wees wat vir jou toegang gaan gee tot deure en vergaderings waar jy ʼn groter verskil kan maak midde al die sosiale, fisiese en ekonomiese nood wat ons elke dag rondom ons sien.

Dit gaan immers hierdie seën van God wees (die Engels praat van “favor”), wat groei en meer voorspoed bring in ons besighede en boerderye, wat ander met ander oë na ons gaan laat kyk.

Dit is daardie sigbare seën en voorspoed, wat ons as ambassadeurs in die besigheidswêreld, kredietwaardigheid gaan gee en wat vir mense om ons wys dat om Jesus as Koning te volg, en om gelowig te wees ook in die besigheidswêreld, werk!

Dit maak dat ons ʼn praktiese, geloofwaardige getuienis kan hê as besigheidsmanne en -vroue teenoor ʼn ongelowige wêreld om ons. Ja, dat ons vir hulle kan sê: So lyk dit as die Koninkryk van God hier op aarde, prakties in die besigheidswêreld, van hierdie wêreld ʼn beter, gesonder, gelukkiger en meer geseënde plek maak vir almal.

Want dan kan ons prakties teenoor mense getuig dat om Jesus, Sy opdragte en Sy manier te volg en te gehoorsaam, maak werklik ʼn verskil en is werklik ʼn antwoord op vrae en dilemmas waarvoor die wêreld rondom ons, na al die jare se gesukkel, nog geen oplossing en antwoorde voor gevind het nie.

Verstaan mooi, dit is nie ʼn voorspoeds-teologie of boodskap wat ons vir die besigheidswêreld om ons wil bring nie! Nee, dit gaan oor hoe besigheid en die markplek ʼn instrument kan word in diens van die Koninkryk van die hemel om ook hier prakties sigbaar te word. Sodat dit ons geleenthede kan bied om meer invloed en toegang tot platforms te kry, wat ons geleentheid bied om getuies te wees van hoe die boodskap van die Koninkryk van Jesus die sosiale nood en lyding rondom ons meer effektief kan aanspreek en kan bedien.

Dit gaan daaroor dat dit ons geleenthede gee om mense te help ontdek dat al die gierigheid en selfgesentreerdheid om ons, ook in die besigheidswêreld, juis die wortel en hoofrede is vir al die lyding, pyn en onreg wat ons daar elke dag sien.

So kan ons dan ook teenoor hulle getuig dat ʼn alternatiewe kultuur en ʼn ander manier van besigheid doen, wat gedryf en gemotiveer is deur ware liefdevolle omgee en mededeelsaamheid, selfs in die markplek en ekonomie, alles kan verander, want dit is God se manier van doen, en daarom uiteindelik, die enigste ware oplossing wat gaan werk in die markplek.

Net dit kan daar ʼn wêreld te skep wat vir almal van ons en almal rondom ons, ʼn beter, gelukkiger en gesonder plek kan maak om binne-in te kan leef.
Uiteindelik is dit die enigste, ware volhoubare ekonomiese model wat kan werk.

Dit is dus ʼn holistiese model van kapitalisme wat nie tipies winsgedrewe is nie, maar eerder gedryf en gemotiveer word deur ʼn omgee en mededeelsaamheid, waar drie dinge van gelyke waarde geag word, naamlik dat dit tot voordeel sal wees vir almal betrokke, maar tog ook wins kan genereer, sonder om die planeet rondom ons in die proses skade te berokken of te vernietig.