Hoe lyk hierdie sukses waarvan ons praat?

 

Verlede keer het ons gesels hoe die Here vir jou ʼn storie van sukses en seën in jou besigheid gaan gee wanneer jy Hom gehoorsaam en Hom dien in jou besigheid.

Maar hoe lyk hierdie sukses waarvan ons hier praat?

Is dit die tipiese sukses waarvan die sogenaamde “prosperity teaching” praat of is dit iets anders?

Vandag gaan ek vir jou ʼn ware verhaal vertel oor hierdie soort sukses waarvan ek praat wat ek hierdie afgelope week uit een van die sakemanne wat ek begelei en voor bid, se eie mond gehoor het. En ja, ek het hom gevra of ek dit maar kan vertel.

Dat soms, as deel van die Here se seën in jou lewe, Hy ook daardie moeilike tye, noem hulle maar tye van beproewing, kan gebruik tot ons bes wil, soos Rom. 8:28 so raak dit beskryf.

So vertel hierdie sakeman hoe die Here midde so ʼn tyd van uiterse finansiële beproewing, op ʼn dag vir hom hierdie prentjie van ʼn honderd glase op sy tafel wys om iets van Sy seën in sy lewe vir hom te illustreer.

Een van die glase, en net een, het die Here gesê, is die finansies en finansiële sukses en groei wat hy in sy lewe en besigheid gaan beleef. Ja, sommige dae gaan daardie glas half wees en sekere tye selfs leeg, maar gedurende daardie tye moet hy hierdie perspektief wat die Here hom gegee het oor die honderd glase, onthou.

Dit is in daardie tye, wat die glas half is of dalk leeg is, wat hy as gelowige sakeman moet onthou van die nege-en-negentig ander glase wat heelwaarskynlik vol is, wat ook in sy lewe staan as deel van God se seën en goedheid in sy lewe.

Dit is dinge soos sy huwelik met sy vrou, en God se besig-wees met haar. Dan is daar nog God se besig-wees moet hom as man en as besigheidsman.

Dit is gedurende daardie tye wat dit dalk swaar gaan finansieel in die besigheid, soos toe hy sy bakkie as bou-kontrakteur moes verkoop om agterstallige skuld te betaal, wat hy moet onthou van die ander nege-en-negentig ander glase wat nog heeltyd vol staan.

Soos toe die Here, in ʼn ander glas, vir hom ʼn klein betroubare motor gegee het waarmee hy nou na van sy kliënte toe kan ry.

Ja, dit is in daardie tye wat hy moet kyk na die vol glase van elkeen van sy pragtige kinders en die pad wat elkeen van hulle met die Here stap, met hulle lewens waarop hy so trots is.

Dan is daar nog die glase vol van die gesondheid wat almal van sy geliefdes beleef, en die heerlike tye saam met hulle. En wat nog te praat van daardie klompie uitgesoekte vriende wat hulle het as gesin, wat so ʼn bron van vreugde en ondersteuning vir hulle as gesin was hierdie afgelope twee jaar tydens CoVid toe dit maar taai gegaan het in die besigheid.

Hy vertel o.a. hoe die Here vir hom Fil. 4:6-7 geleer het.

“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.

En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Dit is toe dat die Here weer met hom praat oor die glas van finansies en finansiële seën. En Hy herinner hom daaraan dat as deel van Sy seën in daardie tye wat dit swaar gegaan het in hulle finansies, hoe Hy hulle sulke wonderlike dinge geleer het.

Soos oor hoe hulle Hom kan vertrou met daardie behoeftes in hulle lewe, ja, die klein en groot dinge. Hy herinner hom hoe Hy hom en sy vrou geleer het van ʼn “G-D boks” wat hulle fisies moes maak vir hulle huis en wat hulle in hulle huis, waar almal dit kan sien, moes sit.

In hierdie “G-D boks” kon enigeen in die gesin, wat ʼn behoefte of tekort of bekommernis of versoek gehad het waarmee hulle nie meer raad geweet het nie, dit kon skryf op ʼn papiertjie en in daardie boks kon gooi. Maar as dit eers in die boks gegooi is, moes hulle mekaar herinner daaraan dat jy nie nou hieroor meer mag bekommerd wees nie, en selfs nie meer oor hoef te bid nie, want dit is nou by God, en in Sy hande! Nou vra God net geloof van ons om Hom te vertrou om op Sy tyd daardie bekommernis aan te spreek en in daardie nood te voorsien soos Hy goeddink. En natuurlik, dat Hy soos Fil. 4 sê, daardie vrede sal gee wat ver bo ons verstand of denke is.

Toe gaan die Here voort en gesels verder met hom oor daardie glas met die finansies in: Jy kan My ook vertrou om hierdie glas propvol te maak! Ja, tot oorlopens toe vol, sodat dit sal oorloop en sodat jy ander kan seën met die oorloop, alles tot My eer, sê die Here!

Dit is wat ons nou doen, vertel die sakeman verder.