My en Hetta se gebed vir jou en jou geliefdes – Brief aan FAMILIE VAN FAMILIES MAART 2023

 

Die Here se belofte aan julle is dit wat daar in Fil. 4:19 staan:

"En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus."

Ek weet dat jy en jou geliefdes heelwaarskynlik in hierdie tyd voor die Here sit met ernstige behoeftes en uitdagings. Soos ek en Hetta ook.

Maar in die lig van God se beloftes, verwag ek saam met jou vir die oorvloedige voorsiening en seën wat die Here aan ons belowe het, totdat ons die deurbrake beleef wat nodig is.

Ja, dit is ’n tyd hierdie waarin ons moet hande vat en saam bid en God bly herinner aan Sy beloftes aan ons totdat daardie deurbrake kom.

Daar aan Sy voete moet ons aanhou om die Here te loof en te prys, en dankie te sê vir die ander 90 en meer glase in ons lewe wat alreeds tot oorlopens toe vol is deur God se genade. Bid ook saam dat ons nie ons vreugde en vrede sal verloor oor die een of twee glase in ons lewe wat dalk nog halfleeg of bykans leeg is nie.

Want ons weet in geloof dat die deurbrake voor die deur is. Ja, want ons is immers in een van daardie GRAND FINALE-seisoene waarin ons God kan vertrou vir dit wat ons nodig het om te saai sodat Sy Koninkryk kan kom en kan deurbreek ook daar waar elkeen van ons ons bevind en daar waar God ons voor geroep het.

Daarom gaan ons nie opgee of hoop verloor nie. Ons kies om te glo dat ons tot alles in staat is deur Christus wat vir ons die krag gee.

Daarom bring ons al ons behoeftes met gebed en smeking en met danksegging voor die Here, en verwag ons om oorval te word met daardie vrede wat alle verstand te bowe sal gaan, want dit gaan nie logies sin maak nie. (Soos Fil. 4:6 e.v. immers belowe).

Soos Ef. 2:7 sê, vertrou ons die Here hiervoor: “... sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.”

Ons vertrou die Here om Sy onmeetbare genade, liefde en guns in ons lewe en deur ons in Christus Jesus uit te giet. Hy is immers lief vir ons en sal ons nooit in die steek laat nie!

Hy veg vir ons! Dit is mos wat Hy self daar in Jes. 49:25,26 aan ons belowe as daar staan:

“Ek is ‘n vyand van jou vyand en Ek sal jou kinders red.

Ek sal jou verdrukkers hulle eie vleis laat eet, hulle sal van hulle eie bloed so dronk word soos van wyn. Dan sal al wat leef, besef dat Ek die Here is, jou Redder en jou Verlosser, die magtige God van Jakob.”

Daarom stuur die Here engele selfs om vir en namens ons te veg vir daardie deurbrake waarvoor ons Hom vertrou. (Onthou jy die visioen-droom wat Jakob daar in die woestyn, in Gen. 28 gehad het oor die engele wat op en af teen die leer klim? Dit is onder andere wat hulle hier op aarde moet kom doen! Sien dit gebeur in jou lewe, daar waar jy die Here vir deurbrake voor vertrou!)

Ons verantwoordelikheid hierin is om in gebed daar waar ons alleen is, en daar waar ons saam met ander gelowiges is, hieroor saam te stem in Jesus se Naam. (Joh. 14:12-14).

Vra ook sommer die Here om, soos Hy aan ons belowe daar in Rom.8:28, daardie dinge wat die vyand wou gebruik om ons mee te vernietig, of by ons te steel, of selfs ons dood te maak, om te draai en te verander in seën in ons lewens.

Dit staan ook in Gen. 50:20.

“Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ‘n groot volk nou in die lewe gebly het.”

Ja, daarom wil ek jou en jou geliefdes vandag, op 23 Maart 2023, bemoedig en op grond van God se Woord belowe: God gaan ons red en ons gaan inderdaad reuse deurbrake en verandering sien en beleef!

Deut. 7:12-15
"As jy goed luister na hierdie bepalings en hulle gehoorsaam en daarvolgens lewe, sal die Here jou God sy verbond nakom en sy troue liefde aan jou betoon soos Hy aan jou voorvaders met ‘n eed beloof het.

Hy sal jou liefhê, Hy sal jou voorspoedig maak en jou ‘n groot volk maak. Hy sal jou nageslag voorspoedig maak en Hy sal jou grond ‘n ryk oes laat lewer: volop koring, wyn en olie. Hy sal jou grootvee en jou kleinvee vinnig laat aanteel. Dit alles sal Hy doen in die land wat Hy met ‘n eed aan jou voorvaders beloof het om vir jou te gee.

Dit sal met jou beter gaan as met al die volke. Nie een van jou mense of jou vee sal onvrugbaar wees nie.

Die Here sal elke soort siekte van jou af weghou.”

Vra die Here dus met vrymoedigheid om jou met oorvloed te seën, sodat jy ook weer ander oorvloediglik kan seën.

Daarom kan jy sit en wag vir daardie reuse veranderinge om van vandag af plaas te vind.

Maar nie net op geestelike gebied nie, maar veral ook finansieel en in die ander areas van jou lewe waar jy die Here voor vertrou.

Onthou, ons Here belowe dat Hy klaar maak wat Hy begin het. (Lees maar Fil. 1:6).

Staan op hierdie vers, want die God wat dit aan ons belowe het, kan nie lieg nie, en sal doen wat Hy belowe het.

En omdat jy Hom daarvoor vertrou in jou lewe, staan op en gaan doen in liefde en gehoorsaamheid wat Hy jou beveel het om ook in ander se lewens te gaan doen!

En daar waar jy nie presies weet wat God wil hê jy moet doen nie, gaan vra vir Hom daarna uit.

Jer. 29:11-14
“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!

Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor.
Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.

Julle sal My ontmoet, sê die Here”.

Sien daarom alreeds van vandag af hoe God die hemele bo jou en jou geliefdes ooptrek en hoe Sy liefde en seën op julle begin reën!

Kom ons stem hieroor met mekaar saam in Jesus se Naam.

Mag Hy jou seën.

Lief vir julle.

Christo en Hetta

Ons Bankbesonderhede

Hier is ons bankbesonderhede vir wanneer julle besluit om ook in ons lewens en bediening te gee:

C A Nel
ABSA
Rek nr: 4040149654
Takkode: 632005

C A Nel
CAPITEC
Rek nr: 1345180967
Takkode: 470010

(Vir die wat dit nodig het, ek het ook ʼn PAYPAL-rekening, This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. , wat julle kan gebruik.)