Onthou jy nog wat die Here profeties vir ons uit Haggai 1 en 2 gesê het?

 

Ek wil jou herinner aan wat die Lewende God in ʼn profetiese woord vir ons aan die begin van 2023 oor Sy Ekklesia gesê het daar uit Haggai. Onthou jy nog?

Kom ek haal so ʼn paar sinne uit daardie deel van die Profetiese woord hier aan.

“God is besig met ʼn “divine recovery”-proses in Sy kinders se lewens, en ja, dit is soos ʼn oorlog wat aan die gang is. Die bedoeling daarvan is om in elkeen van ons se lewe (bedoelende, jou hele lewe, elke aspek en sentimeter van jou lewe, van wie jy is, van jou verhoudinge, jou gesondheid, jou finansies, ens.) nuwe kanale en roetes oop te maak waarin Hy alles wat nodig gaan wees, kan laat instroom in jou lewe in.

Sien in jou geestesoë hoe die sluise van die hemel oopgaan waardeur God Sy seën en genade en liefde wil laat instroom in jou lewe in, sodat jy in Sy diens, weer tot seën vir ander kan wees!

Dit is in hierdie konteks en verband wat jy hierdie laaste profetiese woord moet lees en verstaan.

Hoor wat die lewende God hierdeur vir jou wil sê. Gaan raak stil aan Sy voete, met net die Bybel as Sy woord op jou skoot, en lees asseblief Haggai 1 en 2. Kyk en toets of jy ook hoor wat ek gehoor het.

Dit is wat ek gehoor het wat God nou vir elkeen van ons wil sê.

So sê die Here God: Sien julle nie en hoor julle nie? Julle is besig met soveel dinge! Of dit nou op die markplein is en of dit in wat julle kerk noem, is!

Midde al julle besig-wees, ja, selfs ten spyte van al julle besig-wees, lê My ware Ekklesia, My Liggaam, verflenter en is dit in die sigbare, niks anders as ruïnes nie!

Dink maar net daaraan dat in SA alleen noem mense meer as 30 000 verskillende “kerk”-ruïnes "hulle kerk" en glo hierdie mense dat die deel waar hulle die Here dien en aanbid, “die ware kerk is waar die volle waarheid reg geleer word en waar My Koninkryk besig is om te kom”!

Verstaan julle werklik wat julle daarmee sê en bely?

Besef julle dat julle bely dat al die ander, die ander 29 999, buiten die “kerk” waarin jy nou is, is dus...??? Vul jy maar self verder die volgende woorde in.

Is jy dan nog verbaas daaroor as jy dag en nag swoeg en sweet, maar uiteindelik onbevredig en onvergenoegd voel? Ja, dat jy steeds beleef dat daar net nooit genoeg is nie en dat jy die hele tyd hier diep binne voel dat daar tog meer moet wees as net dit!

Kom tot julle sinne en kom sit weer aan My voete om die goeie nuus van My te hoor. My hart is immers om aan julle lewe en dit in oorvloed te gee! Kom laat Ek vir jou wys hoe om die sluise van die hemel oop te trek bokant jou en jou hele lewe! Kom Ek wys vir julle wat moet gebeur as My Koninkryk weer prioriteit bo alles in julle lewens word.

Julle in die markplein, kom leer by My hoe om daar in julle besigheid en deur julle boerdery werklik My Koninkryk te soek!

Ja, dat dit begin daar waar julle begroot en beplan in julle bestuursvergaderinge. Waar julle begin beplan en begin begroot vir wat gedoen en gegee moet word sodat My Koninkryk kan kom.

En julle wat voltyds so swoeg en sweet om die derduisende ruïnes wat julle kerk noem, in stand te hou, dominees, pastore, senior leraars van gemeentes, leiers van bedieninge, kom, sodat Ek julle 'n nuwe prentjie kan wys van hoe My Ekklesia werklik lyk en moet funksioneer.

Kom sit by My voete, met net My Woord op julle skoot, en leer by My hoe om werklik in diens van My koninkryk hier op aarde, daar waar Ek jou geroep het, te doen wat Ek jou vra om te doen.

Ek is immers jou Here en Koning! Ek is jou God. En dit is beslis nie die een of ander kerkorde of leer van die kerklike ruïne of kerk waarvan jy deel is nie.
Onthou, Ek seën net gehoorsaamheid aan wat Ek sê!

Waar julle doen soos Ek sê en wat Ek sê, trek julle letterlik die sluise van die hemel bokant julle oop!

Dan sal julle My oorvloedige seën en guns belewe soos Ek belowe het! Dan sal julle beleef hoe My beloftes ook daar rondom jou en in jou lewe waar word!”

Tot sover dan hierdie profetiese woord.