Genoeg is genoeg!

 

Ek weet nie van jou nie, maar ek het beleef dat die Here my uitdaag om oral waar ek outoriteit en ʼn sê het, strepe in die sand te trek en om te sê: Genoeg is genoeg!

As ons werklik die profetiese woord van Jes. 61 (die hele hoofstuk) as Woord van God aanvaar, en glo dat, soos Jesus, dit God se woord en roeping vir elkeen van ons as Sy kinders ook in hierdie seisoen is, sal ons opstaan en begin sê: Ons kan nie meer die chaos toelaat waarmee die vyand rondom ons besig is nie!

Ek glo dat ons in ʼn soort Grand Finale-seisoen is waarin Koning Jesus Sy Liggaam, die Ekklesia, oproep om daar waar Hy hulle geposisioneer het, ʼn verskil te maak.

Jes. 57 en 58

Luister net wat staan daar in Jes. 57:14-58:32 e.v. in die verband:

“Die Here het gesê: Vul die pad op, vul dit op, maak dit gereed! Verwyder die struikelblokke uit die pad van my volk.

So sê Hy wat hoog en verhewe is, Hy wat ewig leef en wie se Naam die Heilige is: Ek woon in ʼn hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes.
Ek reken nie vir altyd sondes toe nie, Ek bly nie vir altyd toornig nie, want anders sou dit die einde beteken van die mens, die mens aan wie Ek die asem gegee het.

Ek het toornig geword oor my volk se sonde en hebsug, Ek het hom geslaan en hom verlaat omdat Ek toornig was. Hy was opstandig en het sy eie koers ingeslaan.

Ek het gesien wat met hom gebeur, en Ek sal hom genees. Dié van hom wat treur, sal Ek lei en terugbring; Ek sal vir hulle uitkoms gee.

Ek stel hulle in staat om My weer te loof. Vrede vir dié wat ver is, vrede vir dié wat naby is, sê die Here. Ek sal hulle genees.

Maar die goddeloses is soos die onstuimige see wat nie tot rus kan kom nie en waarvan die golwe aanhou om slyk en modder uit te stoot.

Vir die goddeloses is daar geen vrede nie, sê my God.

Die Here sê: Roep uit volle bors, moet niks verswyg nie! Laat jou stem hoor, duidelik soos ʼn ramshoring! Wys my volk op hulle oortredinge, die afstammelinge van Jakob op hulle sondes.

Hulle vra wel elke dag na my wil, asof hulle graag wil weet wat Ek van hulle verwag. Hulle gee voor dat hulle ʼn nasie is wat doen wat reg is en hom aan die bepalings van sy God hou. Hulle vra My wel om regverdige beslissings asof hulle van my teenwoordigheid hou.

Hulle vra: "Waarom vas ons, maar U sien dit nie, verootmoedig ons ons, maar U gee nie aandag daaraan nie?" Dit is omdat julle op die vasdae doen wat julle wil en die mense wat vir julle werk, nog harder laat werk.”

Dit moet by ons begin!

Hierdie verandering en restourasieproses moet by ons begin, in ons eie lewens, in ons gesinne en families, in ons besighede, boerderye, maatskappye, skole, universiteite, kantore, gemeenskappe, ja, oral waar ons ons bevind.

Dit is hier waar ons moet begin om daardie praktyke en optredes te verander waar mense behandel word soos slawe en waar die menswaardigheid van mense vertrap word. Dit is waar ons moet opstaan teen korrupsie, misdaad, diskriminasie en waar net sekere mense of groepe bevoordeel word.

Koning Jesus in wie se diens ons is, se hart is dat mense bevry moet word uit die tronke waarin hulle vir soveel jare opgesluit was, en dat hulle verlos moet word van alles waaraan hulle hul dood gedra het.

Maar moenie net werk met diegene wat by jou vir hulp kom aanklop nie! Gaan ook na die plekke toe wat die Here jou wys. En moenie die vreemdeling en die boemelaar en vlugteling langs die pad ignoreer nie!

Natuurlik, begin daarmee daar waar die Here jou geposisioneer het; daar in die gemeenskap waar jy woon en waar jy werk en waar jy leef en beweeg.

Begin dan om daarvandaan, in jou hele omgewing, en later selfs in die omliggende omgewing en dorpe of stede, ʼn verskil te maak.

As die Here vir jou dalk openbare platforms en outoriteit in ʼn wyer gebied gee, soos selfs provinsiaal en nasionaal, doen dan wat jy moet doen en sê wat jy moet sê!

Doen Mat. 24 en 25 en bedien die nood rondom jou wat jy sien, soos jy kan en met wat jy tot jou beskikking het!