Die Here het vir jou ʼn spesifieke S-H-A-P-E gegee juis vir ʼn tyd soos nou

 

Die feit dat jy ʼn Christen en volgeling van Jesus is en die dinge doen wat ’n volgeling van Jesus moet doen, is nie die primêre rede waarom jy hier op aarde is nie.

Jy met jou spesifieke S-H-A-P-E, pas êrens in die Here se groter prentjie in.
In hierdie Akroniem SHAPE, staan die S vir “Spiritual gifts”, die H vir “Heart”, of in Afrikaans “passies”, die A vir “Abilities”, die P vir “Personality”, en die E vir “Experiences”.

Natuurlik is daar ʼn deel van elkeen van ons se SHAPE wat daardie bonatuurlike gawes (van die Gees) insluit wat God bonatuurlik, as ʼn geskenk, aan ons gee wanneer Hy ons doop en salf met Sy Gees. Ja, dit is wat gebeur het in die vroeg-Christelike gemeentes (soos in Handelinge), normaalweg op daardie eerste dag wat jy tot bekering en tot geloof gekom het.

Gaan kyk maar in Handelinge 2:36 tot 39, of in Hand. 8:4 tot 25, of in Hand. 19:1 tot 7, wat gebeur het wanneer gelowiges wat tot bekering gekom het, deur die ander gelowiges dadelik geneem is na water toe waar hulle dan gedoop is. En sommer daar in die water, na hulle doop, het die ander gelowiges hulle hande opgelê en is daar vir hulle gebid dat Jesus wat ook die Doper is met die Gees, hulle sal doop met Sy Gees en bonatuurlik sal toerus met die gawes van die Gees. (Kyk Rom. 12, en 1 Kor. 12 en 14)

Deel van jou opdrag in die Here se diens, gaan draai rondom dit wat die Here in jou as’t ware ingebou het. Deels daarvan het jy van jou Pa en Ma en ander voorouers geërf deur jou baie unieke DNA. In ons Akroniem, SHAPE, vind jy dit in daardie A en P.

Om dit sommer maklik te maak vir jou om agter te kom, kyk maar net na daardie dinge waarin jy goed is. Mense sê soms “jy het ʼn aanleg daarvoor”.

Dit kan ook natuurlik die H insluit of daardie dinge wat jou na aan die hart lê en waarvoor jy ʼn diep, innige passie het. Ek sê altyd, passies is daardie dinge wat ek en jy sal wil doen as ons ʼn 100 miljoen in die bank het, en nie nodig het om te werk vir geld nie, maar wat ons nogtans 24 uur vir 7 dae elke week, sal wil doen as ons kon.

Sommige van ons is van nature goeie sangers of ʼn goeie musikant, want ons het miskien ʼn goeie stem of werklik musikaal en kan met gemak musiek maak.

Ander van ons het hierdie slag om met mense te werk, soos met kinders of ouer persone. Of dalk met siek mense, of arm mense.

Of miskien is jy daardie gebore entrepreneur, wat van kleins af ʼn kop of aanleg gehad het vir besigheid.

Jy moet verstaan dat God baie doelbewus hierdie DNA in jou ingebou het, want Hy het altyd ʼn plan daarmee in Sy groter plan. Daarom is dit van lewensbelang dat jy met hierdie dinge sal erns maak in jou soeke na waar jy in Sy plan en wil inpas.

Dieselfde is ook waar van alles wat jy tot nou toe beleef en ervaar het in jou lewe. Hier gaan dit oor die E in SHAPE.

En ja, dit sluit die goeie en die baie hartseer en trauma in jou lewe in. Dit kan selfs daardie dinge insluit waarom mense gedink het jy is ’n mislukking of net ’n reuse probleem vir almal.

So baie keer vind ons mense rondom ons in wie se lewe en bediening die Here hulle gewys het hoe Hy hulle “mess” omgedraai het sodat dit uiteindelik deel van hulle “mess-age” geword het.

Die Here stuur ons nie sommer in iets in waarvoor Hy nie ons langs die pad eers ’n bietjie in opgelei het nie!

En soos ek gesê het, kan hierdie opleiding in goeie of skynbaar slegte dinge wees. Ja, dit kan dus van daardie goeie of selfs meestal slegte ervaringe in jou lewe tot hier insluit.

Wat wel belangrik is, is dat jy sal besef jy is opgelei vir ’n tyd soos hierdie!