Weer ’n keer oor Jesus!

 

Ons is besig om met die oë van ’n besigheidsman of -vrou te kyk na Jesus en Sy lewe hier op aarde, as ’n voorbeeld vir ons as Sy volgelinge in die markplek.

Om Jesus en die verskil wat Hy destyds gemaak het, mooi te verstaan, moet ons as’t ware oor 2000 jaar se geskiedenis terugklim om iets te verstaan van die wêreld waarin Jesus daardie 33 jaar hier op aarde geleef het!

Dit was seker een van die mees brutale, bloeddorstige, gewelddadige en korrupte tye in Israel se geskiedenis in daardie tyd!

Negentig present van die bevolking was brandarm en leeggesuig deur godsdienstige leiers en priesters “in diens van God”, maar wat agter die skerms blote pionne was van ’n groter politieke mag!

Kinders was oral besig om te sterf van honger.

En boonop was daar ‘n droogte in die land, want God kon nie seën wat in daardie land aan die gebeur was nie!

Mense kon ook nie eers meer met hulle tiendes hulle tempelbelasting betaal nie, want hulle het niks gehad om mee te betaal nie. Boonop het die priesters hulle laat dink dat dit wat hulle nog het en nog bring, ook nie goed genoeg was nie, en daarom omgeruil moes word vir iets beter (maar ook duurder!)

So het janalleman op die strate van Israel net armer en armer geword en dieper en dieper in die skuld geraak “by die tempel”.

Ja, die tempelpersoneel het lustig geld geleen vir die wat nie genoeg gehad het nie, net om môre en oormôre alles te kom vat wat hulle nog oorgehad het, omdat hulle nie hulle skuld kon betaal nie. En dan is janalleman gedwing om daardie lande te bewerk vir die priesters en die “tempel-sisteem” vir ’n absoluut skandelike minimumloon!

Ouers kon dalk nog vir hulleself iets koop om te kon eet, maar dan was daar net nie genoeg ook vir die kinders nie!

So het van die ouers hulle kinders begin verkoop net om te kan oorleef! Ja, seks-handel was reeds in Jesus se dae een van die grootste kriminele besighede!

Dit is ook waarom Jesus so op kinders en God se wil en plan vir kinders gehamer het!

Hier was dus ’n land en sy mense wat geboelie en verslaaf was juis deur ‘n godsdienstige sisteem wat hulle met hulle lewe vertrou het!

Ek wonder in my stilligheid hoeveel mense word vandag nog besteel en belieg deur godsdienstige sisteme wat hulle met hulle en hulle kinders se lewens vertrou!