Stap 4 van vergifnis wat hou (Deel 8)

In Mat. 18:27,32 35 lees ons van wat Stap 4 behels van die Bybelse proses oor hoe om mense te vergewe sodat dit gaan hou.

Hier staan: Vergewe elke persoon vir alles. Dus vir elke onreg of wond of sonde wat hulle jou aangedoen het. Elkeen by die naam, en in soveel detail as wat jy nodig het!

Ons sukkel om mense geheel en al, vir altyd en vir alles te vergewe en daarom moet ons dit oor en oor en oor doen. En dit is omdat ons nie al 5 stappe van Bybelse vergifnis volg nie!

Soos ons in hierdie verse lees, moet ons met “alles wat geskuld word” handel.
Hoe doen ons dit?

Maak ʼn lys van al die wonde of onreg of sondes wat jy kan onthou en waarmee jy nog nie werklik gedoen het waarvan Jesus hier met ons praat nie.
Totdat jy ook uitkom by daardie dinge wat jy tot nou toe nog nie kon vergewe nie.

Dit beteken dus dat ek moet erns maak met hoe daardie persoon my verwond of veronreg het toe hy of sy dit of dat aan my gedoen het.

Ek moet dus erns maak met wat ek ervaar of gevoel het toe dit gebeur het.
Want as ek hierdie wonde of onreg of sondes nie met die nodige erns bejeën nie, kan volkome heling en genesing ook nie in my hart gebeur nie.

Onthou wat ons reeds uit die Woord hieroor aan mekaar gesê het. Dat om nie te vergewe nie, soos druppels gif is wat ons drink, en hoop iemand anders sterf daarvan.

As ek kies om nie te vergewe nie, en nie almal alles vergewe waarvan God se Gees my oortuig nie, sal die helse “torment”, foltering, marteling, wroeging, net aanhou en aanhou totdat ek vergewe soos Jesus sê.

Dinge gaan net begin verander as ek doen wat Jesus aan ons hieroor geopenbaar het.

Kom ek noem vir jou ʼn paar dinge wat hier van belang is:

Vergewe mense vir ALLES waar hulle jou verontreg of verwond het. Selfs al het hulle dit nie doelbewus gedoen of dit nie so bedoel het nie. Want sien, ʼn wond bly ʼn wond, of dit nou doelbewus of per ongeluk toegedien is.

Kies ook om mense te vergewe vir dinge wat hulle verskeie kere aan jou gedoen het. Vergewe elkeen vir elke keer wat dit plaasgevind het.

Soms moet jy ʼn individu vergewe, maar soms ook groepe mense vergewe wat jou verwond of verontreg het. (Soos vir ʼn regering wat jou deur bepaalde wetgewing benadeel of verwond het.)

Dit maak ook nie saak of die mense wat jy moet vergewe nog lewe of dood is nie. Want die wonde of onreg is steeds in jou hart, al is die individu wat dit gedoen het teenoor jou, alreeds dood.

Vergewe mense ongeag of hulle ooit verskoning gemaak of hulle onreg erken het. (Die meeste mense sal nooit kom vergifnis vra vir wat hulle jou aangedoen het nie. Steeds bly dit jou verantwoordelikheid om hulle te vergewe.)

Vergewe mense ongeag of hulle optrede verander of nie.

Vergewe mense ongeag of hulle reg gemaak het na die tyd of restitusie gedoen het.

Vergifnis beteken nie dat jy hulle optrede of verkeerde aksies teenoor jou aanvaar of goedkeur nie.

Vergifnis beteken ook nie dat jy nie terwille van jou en ander se welwese, doelbewus lyne en grense tussen jou en hierdie mense wat jou benadeel het in die verlede, trek nie. Soms moet ʼn mens juis dit doen as deel van volle genesing in jou lewe.

Bybelse vergifnis gaan dus ook nie noodwendig beteken dat jou verhouding met daardie mens gaan herstel of ʼn normale verhouding word nie. (Dit is ook waarom Rom. 12:18 juis sê: Indien moontlik, leef in vrede met alle mense.)

Volgende keer gesels ons verder.

(Maar as jy nie kan wag tot dan nie, gaan luister weer na daardie YOUTUBE-boodskap wat ek hieroor bedien het: https://youtu.be/ITKgew8QYo4?si=0NTe8_YNiw3aY9v4