Jesus het ook mense wat “gawes” is aan die Ekklesia gegee

Het jy geweet dat behalwe die bonatuurlike gawes van die Gees waaroor ons in gedeeltes soos Romeine 12 en 1 Korintiërs 12 tot 14 die afgelope tyd gesels het, lees ons ook van mense wat God self gekies en bonatuurlik toegerus het om 24/7 in hulle persoon “gawes van die Gees” te wees!

Die belangrikste gedeelte in die Woord wat oor hierdie mense en hulle taak binne die Ekklesia handel, is Efesiërs 4:11 tot 16. Kom ek haal dit hier vir jou aan:

“En dít is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos 'n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam 'n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.”

Die term wat ons in die Liggaam van Jesus gebruik om hierdie groep mense te beskryf, is gewoonlik die “vyfvoudige bediening”, nè! Voordat ek begin gesels oor hierdie “vyfvoudige bediening”, kom ons probeer net eers om vir mekaar die groter prentjie te teken.

Jesus Christus, die Doper met die Gees, se hart en bedoeling (volgens Hand. 2:37-39; Hand. 8; Hand. 19; Rom. 12; en 1 Kor. 12) is om elkeen van Sy gelowige volgelinge bonatuurlik toe te rus met die gawes van die Gees wat hulle nie voorheen gehad het nie, sodat Hy hulle kan gebruik om ander om hulle te bedien.

As jy onthou, is dit ook die rede waarom die “normale geestelike geboorteproses” van elke gelowige by hulle bekering, volgens God se Woord, uit vier prosesse bestaan wat normaalweg op Dag 1 van daardie nuwe bekeerling se lewe moet plaasvind.

Die vier dele wat deel is van hierdie geestelike geboorte is: Eerstens, dat so ʼn persoon moet besef dat hy of sy totaal sondig, verlore en op pad hel toe is. Tweedens, daarom gryp hierdie mens in geloof vas aan Jesus as Verlosser en Here en kies om te glo dat Hy die volle straf vir hulle sonde gedra en dit weggewas het deur Sy bloed. Derdens, soos by ʼn pasgebore baba se geboorte, hoor die ander gelowiges rondom daardie persoon (volgens Rom. 10,9) hoe hierdie nuwe bekeerling met sy of haar mond bely dat hulle glo. Daarom neem hierdie gelowiges hierdie nuwe bekeerling op daardie selfde dag, indien moontlik, onmiddellik doopwater toe en doop hulle in water (Rom. 6:1-11). Dan, vierdens, daar in die water, lê hulle vir die nuwe bekeerling hande op (kyk weer na Hand. 8 en 19) en bid dat Jesus as die Doper met die Gees, hierdie persoon sal doop met Sy Gees om hulle so bonatuurlik toe te rus met die gawes van die Gees sodat Hy hulle kan gebruik om ander te bedien met daardie gawes.

Dit in gedagte, kom Ef. 4 dan en sê dat Jesus as die Hoof van Sy Liggaam of die Ekklesia, self sekere van hierdie reeds toegeruste gelowiges uitkies en verder bonatuurlik toerus om in hulle persoon, 24/7, voltyds in staat te wees om die gelowiges in die Ekklesia te kan bedien en toe te rus vir hulle bediening in diens van die Koning.

Sommige van hierdie groep mense (wat ons dan “die vyfvoudige bediening noem) word bonatuurlik toegerus om “apostels” in die groter Ekklesia te wees. Ons kan hulle ook die pioniers, inisieerders en visiedraers noem in die Ekklesia. Hulle is ook gewoonlik die mense wat Koninkrykswerk oral op nuwe plekke inisieer en staan-maak.

Dan is daar ander wat “profete” genoem word. Net ter verduideliking: Al is profesie die gawe, volgens 1 Kor. 14, waarin die Here elke gelowige wil gebruik, is hierdie groep mense deur Jesus self bonatuurlik toegerus en gesalf om voltyds, 24/7, deur die Here gebruik word in die gawe van profesie.

Dan is daar ook ʼn derde groep wat “herders” genoem word, wat die ander gelowiges voltyds met hulle besondere herderlike hart bedien en versorg.

Dan is daar “leraars”, wat ʼn bonatuurlike gawe het om die ander gelowiges met die waarheid en leer van die Woord te bedien.

Laastens is daar ʼn groep wat “evangeliste” genoem word wat voltyds in hierdie gawe opereer. Hulle is persone wat herken kan word aan hulle hart en passie vir verlore mense en begeerte dat niemand tog verlore sal gaan nie. Daarom gebruik Jesus as die Hoof van die Ekklesia, hulle voltyds om hiermee besig te wees buite die mure van die Ekklesia, maar ook om te sorg dat gelowiges in die gemeentes toegerus sal word sodat elke mens op aarde ten minste eenmaal die Goeie Nuus van die Evangelie sal hoor.

Ek glo uit wat ek sien gebeur in die Vroeg-Christelike gemeentes soos Handelinge en in die res van die Nuwe Testament aan ons beskryf word, dat elke gemeente se deure en vensters oop moet wees sodat hierdie vyfvoudige bediening vrylik kan in- en uitbeweeg in en tussen al die gemeentes in die Liggaam van Jesus om hulle werk te kan doen wat Jesus as die Hoof van die Liggaam aan hulle gegee het.

Daarom beskryf ek hulle as die “bloedsomloopstelsel” van die Liggaam! Waar hulle nie toegelaat word om normaal te kom en te gaan nie, gaan daardie gedeeltes van die Liggaam stadig maar seker dood en groei God se mense daar nie soos die Here dit bedoel het nie.

Volgende keer gesels ek verder hieroor.