Dag 7 – Om ʼn kind van God te wees

 

Hy is jou Pappa-Vader

Een van die eerste dinge wat ek vir iemand sê wat tot bekering gekom en Jesus Christus aangeneem het in geloof as Verlosser en Here, is: Welkom in die familie van Jesus! Van hierdie oomblik is jy kind van die lewende God en is Hy jou Vader!

Die verse in die Bybel wat dit uitdruklik sê, is bv., Johannes 1:12,13.

Vat jou Bybel en lees dit asb., hardop vir jouself (en wie ook al saam met jou bymekaar is op welke wyse).

As jy dalk ook een of twee ander vertalings van die Bybel byderhand het (soos op jou YOUVERSION-app/toep) lees ook hierdie vers daaruit hardop. En probeer dan dit in jou eie woorde, so volledig as moontlik, oorsê, ja, dat selfs ʼn klein kindjie van 6 jaar oud dit sou kon verstaan.

Kom ons dink ʼn bietjie oor wat dit nou vir jou beteken as jy ʼn “kind van God” geword het toe jy Jesus aangeneem het as Verlosser en Here.

Omdat die Bybel ons Riglyn en Toets vir die waarheid is, gaan ek vir jou die verse gee waar dit staan, en dan moet jy dit self gaan hardop lees om te hoor wat God, wat nou jou Vader-Pappa in die Hemel geword het, ook daardeur vir jou wil sê.

• As jy Sy kind is, is Hy, die Enigste, Lewende God, nou jou Vader – Daarom leer Jesus jou om Hom so te noem as jy bid, in Mat. 6:6 tot 13.

• As jy Sy kind is, is jy deel van Sy familie hier op aarde. Daarom noem Jesus jou Sy “broer” (of “suster”), soos daar in Lukas 8:21

• Daarom het ons ook as gelowiges mekaar se “broers” en “susters” geword, want ons het nou deel van God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees, se “familie” geword. Dit staan natuurlik op baie plekke. Kyk maar net na 1 Kor. 11:33, 14:26.

• En omdat ons “familie in Jesus” of ʼn gesin is, gaan daar ook geestelike “vaders” en “moeders wees. Soos daar in 1 Tim. 5:1 staan.

• En daarom gaan die belangrikste kenmerk in hierdie “familie van Jesus” wees, hoe ons mekaar en God elke dag lief het. Kyk wat staan in Joh. 13:34,35; 1 Kor. 13; en 1 Joh. 3:1,11,18.

Raak ʼn bietjie stil, maak selfs jou oë toe en “sien” die Here wat self daar by jou en in jou is.

Sien as’t ware hoe jy as Sy kind “op Sy skoot kan sit” en in Sy oë kan kyk as jou Hemelse Pappa. Voel hoe Hy Sy arms as’t ware om jou sit en jou styf teen Hom vasdruk.

Gesels dan sommer dan met Hom in gebed oor dit wat jy ervaar.