Daar is geen teenstrydigheid tussen die Ou en die Nuwe Wet nie

So baie van God se mense vergaan en word totaal verwar as gevolg van ʼn gebrek aan kennis oor wat werklik in die Woord van God staan!

Ai, en is die prediking wat in soveel dele van die Liggaam van Jesus gehoor word, swak, sonder diepte, en totaal onskriftuurlik!

Veral as dit gaan oor die Heilige Gees, Sy Persoon en Sy werk!

Neem nou maar hierdie merkwaardige Skrifwaarheid waaroor ons die afgelope tyd gesels naamlik dat die Heilige Gees in die lewe van die volgeling van Jesus nou “ons nuwe wet” is.

So min mense weet dat dit reeds in die Ou Testament geprofeteer is deur die lewende God!

Luister net na dit wat daar in Eseg. 36, van vers 22 af, hieroor staan:

“Daarom, sê vir Israel: So sê die Here my God: Dit is nie ter wille van julle dat Ek optree nie, Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat deur julle oneer aangedoen is onder die nasies waar julle gekom het.

Ek sal die heiligheid van my groot Naam laat blyk wat onder die nasies in oneer gekom het. Julle het my Naam oneer aangedoen onder die nasies.

Wanneer Ek my heiligheid laat blyk in wat Ek met julle doen voor die oë van die nasies, sal hulle besef dat Ek die Here is," sê die Here my God.

Ek sal julle tussen die nasies uit wegvat, julle uit al die lande bymekaarmaak en julle na julle land toe bring.

Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery.

Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee.

Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.

Julle sal in die land woon wat Ek aan julle voorvaders gegee het, julle sal my volk wees en Ek sal julle God wees.

Ek sal julle bevry van alles waarmee julle julle verontreinig het, Ek sal die graan aanspreek en sorg dat dit baie is; Ek sal nie weer hongersnood oor julle bring nie.

Ek sal sorg dat daar baie vrugte aan die bome is en groot oeste op die lande sodat julle nie weer die vernedering onder die nasies beleef dat julle hongersnood het nie.

Dan sal julle terugdink aan julle bose optrede en julle gedrag wat nie goed was nie, en julle sal 'n afsku hê van julleself oor julle sonde en julle afskuwelike dade.” (Verse 22 tot 31)

Daarom, as dieselfde God vir ons as volgelinge van Jesus sê dat die Heilige Gees wat nou in ons woon “ons nuwe wet” is, beteken dit niks anders as dat Hy as “ons nuwe wet” vir ons presies gaan wys wat die hart van die “ou wet”, en Tora is en dat daar geen teenstrydigheid tussen die “ou wet” en die “nuwe wet” kan en gaan wees nie.

Dit is eintlik so logies dat dit so moet wees, maar kom ek sê dit nou maar weer:

God woon self in jou as God die Gees. Dit is dieselfde God wat dwarsdeur die Ou Testament met mense besig was. Dit is dieselfde God wat die Tora, en dus ook die Tien gebooie, wat die Tora eintlik opsom, aan ons gegee het. Dit is ook dieselfde God wat in Christus Jesus, as God die Seun, mens geword het en tussen ons kom woon het.

In en deur Jesus die Christus, het ons hierdie selfde God, die God van die Ou Testament en die ou era, leer ken as ons Vader, maar ook as die Nuwe Koning van die Nuwe Era, die Era waarin die Koninkryk van die hemel ook hier op aarde oral wil inbreek en deurbreek.

Dit is ook dieselfde God wat in ons ʼn wonderwerk kom bewerk het toe ons met die bedelaars-hande van verlore, dooie mense na Sy genade-geskenk en verlossings-medikasie in Jesus Christus, en wat Hy vir ons aan die kruis en dood en opstanding bewerk het, vasgegryp het in geloof.

Dit is ook dieselfde God wat nou self in ons lywe kom woon het as God die Heilige Gees. Wat ons wil lei en leer en ons lewens wil beheer en bestuur, sodat ons meer en meer vrug sal dra en sal lyk en liefhê en lewe soos ware volgelinge van Jesus.

Ja, sodat ons onder die leiding van God die Gees in ons, elke dag ambassadeurs kan wees van die krag en lewe, die vrede en die vreugde van hierdie nuwe Koninkryk en koninkryk-lewe.