Jesus in ons (Deel 1)

In die bekende fliekreeks oor die boeke van CS Lewis, in Prince Caspian, sê Aslan vir Lucy: Elke jaar wat jy groei as My volgeling, gaan jy tot jou verbasing ontdek dat Ek net groter en groter word.

Wat ʼn pragtige illustrasie oor wat geestelike groei in die lewe van ʼn volgeling van Jesus is beteken! Jesus Christus gaan net groter en groter, en belangriker en belangriker vir ons word!

My gebed is dat dit ook gebeur in ons geselsies week na week. Ja, ook in hierdie reeks oor wat dit beteken dat die Koninkryk van die hemel hier op aarde stadig maar seker en meer en meer sigbaar word en naby ons kom.

Dit is in die besonder my gebed dat dit ook sal gebeur in die volgende weke deur hierdie skrywes van my aan jou! Mag die Here my daarmee help!

Kom ons gaan kyk na wat God die Heilige Gees Paulus geïnspireer het om in Kol 1, daar van vers 15 af, neer te skryf.

Ek gaan waag om iets anders te doen as om net jou te laat lees wat hier vertaal is. Ek gaan jou help om hierdie gedeelte te lees asof Jesus Christus, oor wie dit in hierdie gedeelte gaan, self hier aan die woord is.

Kom ons lees hierdie gedeelte dan so:

Vers 15 en 16
Ek as die Seun, is die beeld van die onsigbare God; die Eersgeborene in die hele skepping.

Want deur My het God die Vader alles geskep: alles in die hemel en alles op die aarde, die sigbare en die onsigbare dinge, of dit nou die konings of ander heersende magte, owerhede of ander gesagvoerders is – alles het die Vader deur My en tot My diens geskep.

Vers 17
Ek het voor alles bestaan, en in en deur My word alles in stand gehou.

Vers 18
Ek is ook die Hoof van die Liggaam, die Ekklesia.

Ek is die oorsprong van die Ekklesia, ja, van alles.

Ek is die Eersgeborene uit die dood, sodat Ek in alles die eerste plek kon inneem.

Vers 19
Want God die Vader het dit goedgevind om die volheid van alles in My te laat woon.

Vers 20
Ja, om deur My alles, ja alles, op aarde en in die hemel, met Homself te versoen, deurdat Ek deur My bloed aan die kruis, vrede gebring het.

Vers 21
Ook julle was voorheen van God die Vader vervreem; ja, vyandiggesind teenoor Hom, op grond van julle slegte dade.

Vers 22
Maar nou het die Vader julle deur My menslike liggaam met Homself versoen, _
sodat die Vader julle, deur My dood, heilig en sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel –_

Vers 23
_Mits julle in die geloof bly, stewig gevestig en standvastig, sonder om weg te beweeg van die hoop wat die Evangelie vir julle (oor My) vertel. _

Dit is die evangelie wat julle gehoor het, en wat in die hele skepping onder die hemel verkondig is, en waarvan julle nou almal 'n dienaar geword het.

En nou gaan ek die res lees soos wat God se Gees Paulus geïnspireer het om dit verder neer te skryf:

Vers 24
Nou is ek bly oor die lyding wat ek om julle onthalwe verduur. Ja, met my liggaam vul ek die oorblywende deel van die verdrukkinge van Christus aan, tot voordeel van sy Liggaam, die Ekklesia,

Vers 25
Waarvan ek 'n dienaar geword het, ooreenkomstig die bedieningstaak wat God aan my toevertrou het, Om in julle belang die woord van God volledig bekend te maak.

Vers 26
Die misterie wat vir eeue en geslagte lank verborge was, is nou aan sy heiliges bekend gemaak.

Vers 27
God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe ryk die heerlikheid van hierdie misterie vir alle nasies is: Naamlik, Christus is in julle, die hoop op die heerlikheid.

Vers 28
Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan, en elke mens in alle wysheid onderrig, sodat ons elke mens voor God kan stel as volwasse in Christus.

Dan wil ek afsluit met Kol 3:4.

Wanneer Christus verskyn, Hy wat julle lewe is, sal julle ook saam met Hom in heerlikheid verskyn.

Tot sover die Woord van die Here.

Gaan kou hieraan. Mediteer ʼn bietjie hieroor.

Volgende keer gesels ons verder.