Onthou jy, Meneer of Mevrou, Jongman of -vrou, suksesvol in besigheid, of in die mediese wêreld, of in die onderwys, of in die Landbou-omgewing, wat Jesus gesê het oor hoe hulle jou vandag, môre of oormôre, moet herken as Sy volgeling en as ambassadeur van die Koninkryk van die hemel? “Ek gee julle ʼn nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” (Joh. 13:34,35) Ja, ek weet Jesus het dit gesê, eerstens, oor ons verhouding en optrede teenoor medegelowiges. Maar moenie vergeet dat Hy presies dieselfde gesê het oor hoe jy ʼn “naaste” ook moet behandel nie! En ja, daardie mense wat elke dag jou pad in die besigheidswêreld kruis, is beslis ook een van hierdie “naastes”! Oor Jesus het hulle gesê: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.” En: “Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.” (Joh. 1:14,16) Daar in Mat. 25 beskryf Jesus hierdie genade wat ons gee, so: “Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ʼn vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.” In Lukas 16 beskryf Hy dit as dat ons die oneerlike Mammon, geld, so moet gebruik dat ons “daarmee vir ons vriende eendag in die hemel moet maak”. En in Mat. 7 beskryf Hy dit dat ons moet besef dat daar waar ons met ons geld en besigheid die “koninkryk soek”, is dit asof ons besig is om dit in ʼn Hemelse bankrekening te belê. Ons het in ʼn vorige gedeelte dit so probeer omskryf in die taal van die besigheidswêreld: Om op die markplein “die koninkryk van die hemel te soek”, beteken om in elke transaksie wat ons doen, in elke diens wat ons lewer, in elke produk wat ons maak of verkoop, drie dinge van ewe belang te reken: Eerstens moet ons elke mens betrokke, “liefhê”, deur hulle so te behandel, hulle so te dien en te versorg, soos wat ek behandel, bedien en versorg sou wou word as ek in hulle skoene was. Daarom is dit nie net my belang wat hier tel nie, maar moet almal wat hierby betrokke is op die een of ander wyse, hierby baat en hier wen. Of dit nou ʼn groot saketransaksie is waarmee ons besig is; en of dit hier gaan oor iemand wat ek nuut aanstel; en of dit iets is wat ek by iemand anders koop; en of dit nou ʼn werker daar op my plaas is, vir wie ek opdrag gee of wie ek moet dissiplineer. Elke mens betrokke moet iets van die genade van die koninkryk van die hemel hier op aarde, in hierdie situasie proe en beleef! Tweedens wil ons in besigheid “wins maak”. Inteendeel, die God wat ons dien, is ʼn God wat op uitkyk is daarvoor en wins beloon. Onthou jy, byvoorbeeld, in die gelykenis van die talente/minas (wat eintlik goue munte destyds was)? Die enigste persoon in daardie gelykenis wat God se toorn geproe het, en alles verloor het wat hy oor aangestel is, was die persoon wat nie wins kon toon agterna nie. Dit kan egter nooit, in besigheid in diens van die Koninkryk van God, oor eensydige wins of oor wins ten koste van ander gaan nie. ʼn Transaksie waarin een party so benadeel word dat hy of sy kaalgestroop en bankrot agtergelaat word, kan nooit in die Koning se oë reg wees nie. Daarom kan dit nooit reg wees dat ʼn groot, welgestelde boer, net omdat hy die eienaar is, dink hy doen reg en goed in God se oë as hy sy werkers hulle gewone loon betaal elke maand, terwyl net hy wegstap met die miljoene na ʼn goeie oes nie! Daarom moet daar ʼn stadium kom waar so ʼn boer of hoofaandeelhouer in ʼn groot besigheid, sy bestuurders in daardie boerdery of besigheid, moet beloon met aandele in daardie boerdery of besigheid! Daarom moet hierdie winsdeling ook uitkring na die verdere opleiding van almal betrokke, en beter voordele, ens. Dit bring ons derdens, by ons verantwoordelikheid as goeie rentmeesters (wat ek sommer “konings in diens van die Koninkryk van God” noem). Hier gaan dit oor hoe ons as goeie rentmeesters omsien na alles om ons. Dit gaan hier oor hoe ʼn groot boer elke jaar boer op al sy plase; wat hy gaan plant en wanneer hy gaan plant. Dit gaan ook oor of hy aanmekaar net chemie en kunsmis moet gebruik om sy grond se produksie, teen alle koste, te vermeerder. En dit gaan oor daardie produk wat jy op die rak sit, of daardie middel wat jy as dokter voorskryf aan ʼn pasiënt. Sien, my vraag is: Hoe kan ʼn mediese dokter ʼn antidepressant voorskryf aan ʼn pasiënt as daardie antidepressant se gebruik sekere van sy pasiënte se seksuele oriëntasie kan verander? (En ja, dit staan uitdruklik so in die voubiljet!) Of hoe kan ʼn onderwyser, net omdat die leerplan wat aan hom of haar voorgeskryf is, onbybelse leuens aan die kinders voor hom of haar leer? Asseblief, hoor my mooi! Ek probeer nie hier diegene veroordeel nie. Ek is net besig om so hard en duidelik as moontlik dit wat ek in God se Woord lees en ontdek het hieroor deur God se genade, in terme en taal te vertaal wat ons almal weer ʼn slag op ons knieë voor God sal dwing en wat ons sal dwing om met die Bybel op ons skoot, êrens op ʼn stil plek, laat sit by die Koning van alle konings, op soek na Sy wil en Sy hart! Ons is immers geroep om dinge anders te doen as wat die res van die wêreld om ons dit aan ons elke dag vertel! |
Hoe bedien ons God se genade in die besigheidswêreld
Nuusbrief
Hits: 960