Pas ook op vir die invloed van die suurdeeg van Herodes

 

Markus 8:15

Ek wil met jou verder gesels oor wat Jesus daar in Markus 8:15 gesê het: “Pas op, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes.”

Hierdie keer wil ek met jou gesels oor die invloed van die suurdeeg van Herodes op ons manier van dink en doen.

Hier gaan dit oor niks anders nie as die ateïstiese invloed en lering wat ons elke dag mee gevoer word in die wêreld daarbuite, sy dit deur die media, die politiek van die dag, die tipiese ekonomiese magsisteme, of dit wat ons as studente in besigheidskole en op universiteitsbanke geleer word.

Dit gaan dus hier daaroor dat ons geleer word om op ʼn bepaalde manier te dink of besigheid te doen, of te beplan asof God, of die bonatuurlike, of wonderwerke, nie werklik gebeur of bestaan nie.

Weet jy hoe sê hulle dit vir jou?

Praktiese ateïsme

Hulle sê vir jou dinge soos: “God help net diegene wat hulleself help!” Of: “Jy is die antwoord op jou eie vrae!” Of: “Gebed gaan nie hier werk nie. Staan op en doen wat jy moet doen!” Of: “Goeie besigheidsmanne en -vroue is self-gemaakte mense!”

Moenie dink dat hierdie suurdeeg net in die wêreld daarbuite ʼn gevaar is nie! Dit is ook een van die groot uitdagings in die kerk vandag dat ons sit met ʼn manier van dink en optree wat ek niks anders kan noem as praktiese ateïsme nie.

Soveel mense wat hulleself as Christen-gelowiges beskou is prakties ateïste. Hulle tree op, praat en dink soos mense wat nie glo of weet dat daar ʼn aktiewe, lewende God in hulle eie lewe en rondom hulle besig is nie.

Natuurlik sal hulle dit nooit so sê nie. Nie een van hulle, of een van hierdie gemeentes of kerke sal openlik en eerlik bely dat daar nie werklik ʼn God is nie.

Tog tree, praat en dink hulle op so ʼn wyse wat glad nie met die bestaan of werklikheid van ʼn lewende God rekening hou nie. Hulle tree daarom presies soos die ongelowige wêreld rondom hulle op as hulle voor uitdagings te staan kom of as hulle gevra word om standpunt in te neem oor ʼn bepaalde saak.

Dit kom nie eers by hulle op om te probeer seker maak oor wat God oor hierdie saak te sê het in Sy Woord, die Bybel, nie. Die Bybel het immers lankal by hulle maar net een van baie gewone boeke geword, en is boonop ʼn baie ou boek vol ou, uitgediende sieninge en menings!

Soveel mense dink dat Suid-Afrika ʼn Christelike godsdienstige land is. Oor die sewentig persent van sy inwoners sê immers dat hulle lede van die een of ander Christelike kerk sou wees. Maar kyk maar net rondom jou na wat in hierdie land onder hierdie sogenaamde godsdienstige mense aangaan! Dan besef jy mos sommer gou dat ons dalk hier ʼn godsdienstige dop het, maar in die hart of kern, sit ons met ʼn siek, totaal ateïstiese gees of suurdeeg wat alles om ons siek, korrup en totaal liefdeloos maak.

Rom. 12:1,2

Daarom is die oproep van Romeine 12, vers 1 en 2, in my eie woorde, so relevant:

Die feit dat julle lyk, en optree, en dink soos die res van die wêreld rondom julle, wys tog dat iets geweldig fout en vrot is! Laat toe dat God in Sy genade kom en dat Hy julle gedagtes sal vernuwe! Mag Hy julle verras en onverwags, wonderlik, skielik, self voor en by en in julle lewens verskyn, dat julle sal neerval voor Sy voete en Hom sal smeek om tog julle hart en gees en gedagtes te kom nuut maak en totaal sal verander en sal deursuur met die Goeie Nuus van die Koninkryk van die hemel wat hier op aarde wil deurbreek en gesien wil word.