Bly doelbewus aan die Koning se voete

 

Almal praat so van “mindfulness” deesdae.

Bedoelende om te kies om doelbewus in die oomblik, in die nou te bly en nie toe te laat dat ʼn besig-wees met gister en die verlede se dinge, of jou bekommernis en vrese oor môre, die lekker en die voorreg van wat jy nou beleef en waar jy nou op hierdie oomblik is, in die proses verdring en leeg verbygaan nie.

So glo ek, om werklik ʼn daadwerklike impak as ambassadeur van die hemel hier op die aarde en spesifiek in die markplein te maak, moet ek en jy doelbewus kies om aan die voete van ons Koning te bly sit, met ore wat sensitief is vir die stem en leiding van Sy Gees wat in ons woon. Sodat ons presies elke oomblik kan weet wat die hart en wil van ons Vader en ons Koning in elke situasie is.

My verhouding met die Vader, Koning Jesus en die Heilige Gees is immers hierdie intieme, oomblik-vir-oomblik, liefdesverhouding en bewus-wees van Sy heerlike teenwoordigheid en besig-wees in my en almal om my se lewens.

Daarom begin my dag, elke dag, eerstens, met ʼn stil gaan sit in Sy teenwoordigheid, waar ek Hom in die oë kyk en ek my dankbaar kan verlustig in Sy liefdevolle, versorgende, beskermende arms om my.

Ja, soos ek baie keer vir angstige en gespanne mense leer, gaan lê ek baie keer op die mat, haal ʼn paar keer doelbewus met my diafragma vir vier tellings diep asem, hou dit vier tellings in en blaas dit vir ses tellings stadig uit.

So trek ek God se lewegewende suurstof en lewe in, hou dit vir ʼn oomblik in en begin dan al die spanning, angstigheid, bekommernis en dood in my uitblaas.

So begin ontspan ek net daar op die mat, asof ek as’t ware op die Here se handpalm veilig lê, versorg en beskerm. En so vergeet ek dan van my asemhaling, terwyl ek elke stukkie van my liggaam, van my tone af stukkie vir stukkie oorgee en laat rus in Sy handpalm. Tot by my kop en gesig.

So rus ek dan daar in Sy teenwoordigheid doelbewus vir so 20 minute.

Om dan op te staan en met Sy Woord, die Bybel, in my hande, te gaan sit en luister na wat Hy vandag vir my wil sê uit die gedeeltes wat ek lees uit Sy Woord. Gewoonlik lees ek so drie gedeeltes: ʼn hoofstuk of twee uit die Ou Testament, ʼn gedeelte uit die Psalms en digterlike gedeeltes uit die Ou Testament, en dan ook ʼn hoofstuk of twee uit die Nuwe Testament. Meestal volgens ʼn bepaalde leesprogram, sodat ek die hele Bybel in ʼn jaar se tyd kan deurlees.

Terwyl ek lees wat daar presies staan, luister ek doelbewus om te hoor wat God self vir my vandag wil sê.

As ek klaar gehoor het wat Hy wil sê, mediteer ek daaroor en kies ek een of twee maniere hoe ek vandag daarop moet reageer of tot aksie moet oorgaan.

Heeltyd gesels ek met Hom en gesels Hy met my terug. Hierdie gesprek gaan dwarsdeur die dag aan. Natuurlik ook met lang tye van skynbare stilte, soos hoort in ʼn ware liefdesverhouding, waar ons nie nodig het om heeltyd te praat om mekaar se harte te hoor nie.

So bly ek sensitief vir Vader, Koning Jesus en die Gees se stem. Om my gedurige bewus te hou dat ek ʼn Pappa in die hemel het, wat die Koning is. En dat ek Sy kind is. Maar ook dat ek ʼn toegeruste, aangestelde ambassadeur van die hemel is wat vandag hier op aarde is, op bepaalde verhoë en in uit-die-hemel-gereelde ontmoetings met mense, om daar my God en Koning te verteenwoordig en Sy hart daar te laat gebeur of te laat hoor.

Ook daar in die markplein, doelbewus, vandag!