Profetiese woord vir 2023 en verder - Deel 2 - Jesaja 61 – Dit is jou seisoen van restourasie en oestyd!

 

Deel 2 - Jesaja 61 – Dit is jou seisoen van restourasie en oestyd!

Gaan lees net weer ʼn keer Jesaja 61. Lees dit egter hierdie keer as ʼn profetiese woord van die lewende God oor jou en dit wat in en om jou aan die gebeur is in hierdie nuwe seisoen.

Hoor hoe die Here vir jou sê en belowe: Dit wat hier staan, doen Ek nou in jou lewe sodat Ek dit wat verder hier staan, in en deur jou kan doen!

Ja, dit is ʼn nuwe seisoen hierdie, maar dit is nie sommer net nog ʼn nuwe seisoen soos soveel ander voor hom nie. Nee, hierdie seisoen is ʼn baie beslissende, belangrike seisoen. Waarin dinge beslissend, radikaal gaan verander. Dit is daardie soort oomblik wat hulle in die wetenskap as ʼn “tipping point” beskryf! Waar daardie een ding gaan gebeur, daardie een strooitjie wat die kameel se rug gaan breek, soos die Afrikaanse idioom sou sê.

Polities, ekonomies, sosiaal, is dit dwarsoor die wêreld aan die gebeur. Dit is ook, verrassend vir sommige, binne die Liggaam van Jesus, binne-in die Ekklesia, aan die gebeur. Dinge is besig om beslissend, radikaal te verander om nooit weer dieselfde te wees nie.

My opdrag is om jou, juis in hierdie tyd, te herinner daaraan dat dit die Seisoen van die Mond hierdie is.

Dit is ʼn seisoen waarin ons as Ekklesia, as die Liggaam van die Here Jesus, weer die krag moet ontdek van wanneer ons met ons mond begin proklameer, agterna begin sê en bid, wat die lewende God self in Sy Woord vir ons sê.

Dit is ʼn tyd wat ons elke dag self by God se voete moet gaan sit om self uit Sy mond te hoor wat Hy vir ons, nou, op hierdie oomblik in ons lewe, in ʼn bepaalde situasie, oor ʼn bepaalde saak of uitdaging in ons lewe, wil sê.

As ons self by Hom gehoor het wat Sy hart is, dan moet ons dit begin na-sê en begin bely met ons mond. Ons moet dit begin bid en dit aanhoudend bid. Totdat dit begin gebeur. Gebed het immers groot krag, soos die Here self daar in Jakobus 5:16 vir ons sê.

Hierdie seisoen is ook die Seisoen wat deur die Hebreeuse letter, Gimel, gesimboliseer word. Die prentjie van Gimel is die simbool van die Kameel, wat weer op sy beurt in die Oosterse wêreld seën en oorvloed simboliseer.

Sien voor jou oë ʼn ryk man wat agter ʼn arm man aanhardloop om vir hom te oorlaai met genade en seën. So, glo ek, sê die Here vir elkeen van ons, is Hy besig om as’t ware deur Sy engele en die ander instrumente wat Hy in ons lewens wil gebruik, agter ons aan te hardloop, om Sy kinders uit hulle skoene te seën.

Hierdie prentjie van die seisoen van Gimel het egter ook ʼn ander kant, waarvan ons ook lees in Jesaja 61.

Ja, dit is ook die seisoen van God se oordeel. Ons gaan voor ons oë sien hoe die bitter gevolge van sonde en ongehoorsaamheid, ja, God se oordeel, reeds hier op aarde in mense se lewens, in besighede, in organisasies en strukture, waar die hel los was en die hel en sy magte tot nou toe hoogty gevier het, skielik, soos vuur, sien deurbreek en sien hoe dinge waaraan daar vir jare gebou is, alles in puin gelê en vernietig word.

Daarom is ons werklik in hierdie seisoen in ʼn seisoen waarin ons kan verwag dat God self dit wat verkeerd is, gaan reg maak. Waarin ons gaan beleef hoe God net sê: Genoeg is genoeg!

Daarom is dit werklik ʼn seisoen waarin ons kan verwag dat God se woord daar in Jer. 29:11 tot 14 voor ons oë gaan gebeur en gaan waar word.

Jer. 29:11-14

“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ʼn toekoms gee, ʼn verwagting!

Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor.

Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.

Julle sal My ontmoet, sê die Here, en Ek sal julle terugbring…”

Dit is ʼn seisoen waarin Koning Jesus self voor ons kom staan en aan ons sê wat Hy daar in Joh. 14:13-14 gesê het:

Joh. 14:13-14

“Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.

As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”

Moet dus nie moedeloos word of ophou glo nie. Ja, ek weet jy het al baie hieroor gebid en baie keer al hiervoor gevra. Moenie nou ophou nie. Hou aan!

Die Here belowe dat dit juis nou die seisoen is wat ons van Hom deurbrake kan verwag en kan verwag dat Hy ons gebede sal verhoor.

Sien reeds in jou gees die kamele, swaar gelaai met alles waarvoor jy die Vader al vir solank al vertrou, daar in die verte aankom, op pad na jou toe!