Profetiese woord vir 2023 en verder - Deel 3 - Sien jy dit raak? Sien jy die magtige beweging van God raak

Deel 3 - Sien jy dit raak? Sien jy die magtige beweging van God raak

Sien jy dit raak? Sien jy die magtige beweging van God raak wat aan die gang is?

Luister, Ekklesia van Jesus! God is besig om hier onder ons in Suid-Afrika ʼn magtige ding te doen!

Hierdie profetiese woord wat ek gehoor het, is spesifiek oor Suid-Afrika en wat God besig is om nou hier tussen ons te doen. Ja, natuurlik gaan dit ook ʼn impak wêreldwyd hê, want God het dit belowe.

Onthou julle die visie wat God my in 1997 op die trein daar êrens tussen Laingsburg en Touwsrivier gegee het?

Voor ek weer daardie profetiese woord hier profeties proklameer, wil ek net sê: Ek hoor God sê: Kyk mooi na wat rondom jou, en spesifiek wat hier in Suid-Afrika nou aan die gebeur is! Dit wat Ek destyds aan julle gesê en belowe het, is besig om nou rondom julle hier in Suid-Afrika te gebeur!

Ja, Ek weet julle staar julle moedeloos blind teen wat die vyand besig is om rondom julle te doen: die uiters frustrerende beurtkrag, al die geweld, al die misdaad, bedrog, ekonomiese en finansiële uitdagings rondom julle as gevolg van staatstrukture wat gerysmier is van die kern af, ens., ens.

Waarom dink julle is hierdie negatiewe, demoniese beweging soos ʼn trein op spoed, juis in hierdie tyd so blatant sigbaar en besig! Want Satan en sy magte sien waarmee God besig is, en wil met alle mag dit strategies kelder of ten minste die voorblaaie so domineer, dat dit al sal wees waaroor die TV en ander media elke dag sensasioneel oor sal berig. Om so julle te belieg, te bedrieg en blind te maak vir waarmee Ek besig is.

Bid en vra My vir oë om raak te sien waarmee Ek tussen julle besig is.

My visie in 1997

Drie jaar na die planting van ’n Afrikaanse vernuwingsgemeente in Potchefstroom, teen die einde van 1995, het ek beleef die Here gee my opdrag om ons storie en die nuwe pad wat God besig was om met ons te stap na Oktober 1993, na ’n veertien jaarlange bediening in die NG Kerk, neer te skryf en te publiseer.

So verskyn my eerste boek, WAARHEEN MET DIE NUWE WYN, in 1996.

Van die oomblik wat daardie boek verskyn het, is ons uitgenooi oor die land om te kom praat oor dinge wat in die boek staan, want gelowiges wat soos ons uit ’n tradisionele gereformeerde agtergrond uitkom, wou meer weet oor wat die Here besig was om ons te leer wat juis die redes was vir die nuwe gemeente daar in Potchefstroom se fenomenale groei.

So is ons in April 1997 uitgenooi om in Ceres te kom bedien daaroor.

Die mense wat ons uitgenooi het, het ’n vakansiehuis in Vermont, by Hermanus, gehad en het ons uitgenooi om ’n week daar te kom spandeer voordat ons in Ceres en op hulle plaas moes kom bedien. Hulle het selfs vir ons ’n motor daar in Vermont gelos om mee te ry.

Ons besluit toe om ’n familie-vakansie daarvan te maak en om met die trein Kaap toe te kom.

Ons het die middag uit Potch vertrek en lekker op die trein geslaap. Vroeg die volgende oggend het ons as gesin gestap na die eetsaal op die trein. My vrou en twee kinders het vooruit gestap en ek agterna.

Net voor Touwsrivier – ek sou jare daarna ontdek dat dit was net toe ons die klein treinhalte, Konstabel, verbygery het met die trein – het ek buitentoe gekyk en skielik op die ruit van die treinwa ’n rolprent sien afspeel van ’n herlewing wat plaasvind.

Laat ek dadelik sê: Ek sien nie normaalweg allerlei visioene nie. Ek droom nie eers drome wat ek kan onthou nie. Dit was dus totaal teen my normale, baie rasionele aard dié!

Ek hoor nou nog die Here sê: Sien jy, dit is herlewing!

Ek antwoord toe: Ja, Here!

Hy sê toe: Dit is soos die herlewing van 1860-61, in Andrew Murray se tyd!
Waarop ek antwoord: Ja, Here. U weet ek ken die detail van daardie herlewing.

Toe sê die Here: Daar kom weer so ’n herlewing en dit gaan weer in die Kaap begin en rol oor Suid-Afrika, dan Afrika en na die res van die wêreld.

Ek sê toe: Here, ek sal U ’n miljoen rand betaal om daar te wees!

Waarop Hy dan vir my sê: Jy gaan daar wees, maar dan moet jy, as jy teruggaan Potch toe, alles gaan verkoop en Kaap toe trek, want Ek wil jou nou hier gebruik.

Skielik was die visioen weg.

In die volgende week het ek en my vrou verskeie kere hieroor gesels, want sedert ons aankoms in Hermanus, is ek bykans 11 keer uitgenooi om verskeie groepe daar te bedien.

Toe ek die Here “vriendelik” daarop wys dat ons eintlik daar is met vakansie, het Hy vir my gesê dat dit nie hierdie keer vir my “vakansie” gaan wees nie, want Hy wou my die nood in die omgewing wys om ons te wys hoekom Hy ons hiernatoe roep.

Die laaste dag wat ons in Vermont was, voor ons daardie middag om 13h00 sou vertrek Ceres toe, sit ek en my vrou, Hetta, langs die see en gesels oor alles wat ons belewe het die afgelope week.

Ek vra haar toe wat vir haar ’n seker teken sou wees dat die Here ons roep Hermanus toe en om alles te gaan verkoop in Potch en dadelik te kom.

Sy antwoord my toe: As iemand vanoggend vir ons sou sê, sonder dat ons vir enigiemand vertel wat ons tans beleef, dat as die Here ons hierheen roep, hier is vir ons ’n huis om in te woon, sou dit vir haar ’n seker teken wees!

Wel, ons het nog een afspraak in Hermanus gehad voor ons vertrek, waar ’n man ons aan sy vrou wou voorstel. Terwyl ons by hulle sit en tee drink, hou die man skielik op met praat, kyk na ons en sê: Julle ken my nou nie werklik nie, maar hierdie huis behoort aan my, asook die volgende twee huise aan die linkerkant. As die Here julle ooit Hermanus toe roep, kan julle in een van daardie huise kom woon.

Wel, na ons terugkoms in Potchefstroom, het ons alles gaan verkoop en na drie weke as gesin Hermanus toe getrek.

Ons woon tans dus sedert Mei 1997 in die Wes-Kaap met die verwagting dat ons hier is om die eerste druppels van die grootste herlewing wat die wêreld nog ooit gesien het, te beleef.

Ja, want hierdie herlewing wat hier aan die Suidpunt van Afrika gaan begin, gaan oor Afrika versprei, tot in Europa, die Amerikas, Asië en die res van die wêreld. Want God het ʼn wêreld so liefgehad dat Hy Sy eie Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Ek weet nie van jou nie, maar ek is besig om dit die afgelope jare reeds, oral om my te sien gebeur!