Profetiese woord vir 2023 en verder - Deel 4 - 'n Profetiese woord aan die Ekklesia vir nou uit Haggai

 

Deel 4 - 'n Profetiese woord aan die Ekklesia vir nou uit Haggai

Ek wil jou in hierdie laaste van die profetiese woorde net weer herinner aan die tema van hierdie reeks profetiese woorde. Vir daardie rede herhaal ek ook die banier van hierdie reeks hier.

In hierdie banier sien jy die twee Hebreeuse letters, Pei, aan die regterkant, en Gimel, aan die linkerkant, wat die jaartal van die Joodse jaar, 5783, in Hebreeus simboliseer.

Soos daar op hierdie banier staan, vind in hierdie jaar en volgende jare, ʼn oorlog plaas waarin God besig is in Sy kinders se lewens, en as deel van die Koninkryk wat kom, met ʼn “divine recovery”-proses besig is.

Die bedoeling daarvan is om in elkeen van ons se lewens (bedoelende, jou hele lewe, elke aspek en sentimeter van jou lewe, van wie jy is, van jou verhoudinge, jou gesondheid, jou finansies, ens.) nuwe kanale en roetes oop te maak waarin Hy alles wat nodig gaan wees, kan laat instroom in jou lewe in.

Sien in jou geestesoë hoe die sluise van die hemel oopgaan waardeur God Sy seën en genade en liefde wil laat instroom in jou lewe in, sodat jy, in Sy diens, weer tot seën vir ander kan wees!

Dit is in hierdie konteks en verband wat jy hierdie laaste profetiese woord moet lees en verstaan.

Daarom beleef ek dat hierdie deel van die profetiese woord kardinaal belangrik is vir elke ander deel van die profetiese woord oor 2023 en volgende jare.
Hoor dus wat die lewende God hierdeur vir jou wil sê.

Gaan raak stil aan Sy voete, met net die Bybel as Sy woord op jou skoot, en lees asseblief Haggai 1 en 2. Kyk en toets of jy ook hoor wat ek gehoor het wat God aan my profeties gesê het.

Dit is wat ek gehoor het wat God nou wil sê vir elkeen van ons.

So sê die Here God!

Sien julle nie? Hoor julle nie?

Julle is besig met soveel dinge! Of dit nou op die markplein is en of dit in wat julle kerk noem, is!

Midde al julle besig-wees, ja, selfs ten spyte van al julle besig-wees, lê My ware Ekklesia, My Liggaam, verflenter en is dit in die sigbare, niks anders as ruïnes nie!

Dink maar net daaraan dat in SA alleen, noem mense meer as 30 000 verskillende “kerk”-ruïnes "hulle kerk" en glo hierdie mense dat die deel waar hulle die Here dien en aanbid, “die ware kerk is waar die volle waarheid reg geleer word en waar My Koninkryk besig is om te kom”!

Verstaan julle werklik wat julle daarmee sê en bely?

Besef julle dat julle bely dat al die ander, die ander 29 999, buiten die “kerk” waarin jy nou is, is dus...??? Vul jy maar self verder die volgende woorde in.

Is jy dan nog verbaas daaroor as jy dag en nag swoeg en sweet maar uiteindelik onbevredig en onvergenoegd voel? Ja, dat jy steeds beleef dat daar net nooit genoeg is nie! Ja, dat jy die hele tyd hier diep binne voel dat daar tog meer moet wees as net dit!

Kom tot julle sinne en kom sit weer aan My voete om die goeie nuus van My te hoor.

My hart is immers om aan julle lewe en dit in oorvloed te gee!

Kom laat Ek vir jou wys hoe om die sluise van die hemel oop te trek bokant jou en jou hele lewe! Kom Ek wys vir julle wat moet gebeur as My Koninkryk weer prioriteit bo alles in julle lewens word.

Julle in die markplein, kom leer by My hoe om daar in julle besigheid en deur julle boerdery, werklik My Koninkryk te begin soek!

Ja, dat dit begin daar in julle begroting en in jou jaarbeplanning en bestuursvergaderinge. Waar julle begin beplan en begin begroot vir wat gedoen en gegee moet word sodat My Koninkryk kan kom.

En julle wat voltyds so swoeg en sweet om die derduisende ruïnes wat julle kerk noem, in stand te hou, dominees en pastore, senior leraars van gemeentes, leiers van bedieninge, kom, dat Ek julle 'n nuwe prentjie kan wys van hoe My Ekklesia werklik lyk en moet funksioneer.

Kom sit by My voete, met net My Woord op julle skoot, en leer by My hoe om werklik in diens van My koninkryk hier op aarde, daar waar Ek jou geroep het, te doen wat Ek jou vra om te doen.

Ek is immers jou Here en Koning! Ek is jou God. Nie die een of ander kerkorde of leer van die een of ander kerklike ruïne of kerk waarvan jy deel is nie.

Onthou, Ek seën net gehoorsaamheid aan wat Ek sê, met My oorvloed! Waar julle doen soos Ek sê en wat Ek sê, trek julle dus letterlik die sluise van die hemel bokant julle oop!

Dan sal julle, soos Ek belowe het, My oorvloedige seën en guns belewe! Dan sal julle beleef hoe My beloftes ook daar rondom jou en in jou lewe waar word!