Ons getuienis in besigheid

 

Ons het die afgelope tyd aan mekaar iets gewys oor hoe Jesus, baie strategies, midde ʼn gierige, selfgesentreerde ekonomie die goeie nuus oor die Koninkryk van die hemel wat nou hier op aarde deurgebreek het, geïllustreer en verkondig het.

Ons het ook begin verstaan waarom die goeie nuus hieroor altyd moet begin met: Bekeer julle! Om midde ʼn markplein wat gedryf word deur gierigheid en selfgerigtheid, Jesus en Sy manier van doen te begin volg, vra ʼn totale hartsverandering, paradigma verskuiwing en radikale ander wyse van besigheid doen.

Jesus het ons immers kom leer hoe om op so ʼn manier besigheid te doen waar alles nie net oor geld en meer vir my en my besigheid moet gaan nie.

Natuurlik moet besigheid wins maak anders speel ons bankrot. Dit kan egter nie net oor geld en meer geld gaan as ons die Koninkryk van God in die markplek begin soek nie.

Nee, dan moet die belange van almal betrokke ook in berekening gebring word. Sodat almal betrokke moet voel dat hulle baat en wen in die transaksie. Dat ons almal deel in die koek op die tafel.

Onthou, die Koning van die Koninkryk het immers gesê: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand.
Dit is die grootste en die eerste gebod.

En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’”

Met ander woorde, in elke transaksie moet daardie naasteliefde teenoor die ander party in besigheidstransaksie duidelik geïllustreer word.

Of dit nou is waar jy die kans het om ʼn bankrot besigheid of boerdery vir ʼn appel en ʼn uit op te tel, en of jy iemand se patent koop wat nog nie ʼn sent tot hier gemaak het nie.

Betaal mense sodat hulle met waardigheid kan wegstap en nuut kan oor begin of met iets nuut kan begin.

Behandel elke persoon met dieselfde soort genade waarmee jy graag behandel sou word as jy in hulle skoene sou wees.

Ja, natuurlik is daar in die gee van Bybelse genade ook ʼn stuk waarheid wat daarmee saam bedien moet word. Maar soos ons reeds in die lewe van Jesus beleef het, genade sal en moet altyd die voorrang en oorheersende element wees.

Luister maar net weer na Johannes 1:14 en 16.

“Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.”

En,

“Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.”

Gaan wees jy daar in die markplek ʼn kanaal in diens van die Koninkryk wat oorvloedige genade, gemeng met waarheid, oral rondom jou bedien!