Ons sukses in besigheid kan ons getuienis oor die Koninkryk sigbaar illustreer

 

Elke volgeling van Koning Jesus is ook deur dieselfde Koning Jesus aangestel om ʼn ambassadeur van die Koninkryk van die hemel hier op aarde te wees daar waar die Here jou geposisioneer en geroep het.

Dit kan wees dat Hy jou geroep het om Sy ambassadeur te wees as tiener op skool, of as student aan die een of ander Tegnikon, of as onderwyser, of dokter, of sportman of -vrou, ens.

In ʼn besondere sin geld dit natuurlik ook vir elke besigheidsman en vrou, en vir elke boer.

In Mat.6:33 sê die Koning dit so: “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”

Die Woord van God is propvol beloftes dat waar God se mense dinge doen soos wat God hulle beveel het, gaan ons gehoorsaamheid deur God beantwoord word met Sy seën en Sy “favor”.

Daar waar ek en jy prakties dit in besigheid doen en gehoorsaam besigheid doen soos wat ons Koning vir ons gesê het, sal daar duidelike bewyse wees van sukses en seën. Dit is immers wat God beloof in Sy Woord.

Natuurlik beteken dit nie dat daar nie ook soms groot moeilikheid en teenstand gaan wees, asook aanslae van die vyand, as jy begin om Jesus as Koning onvoorwaardelik te gehoorsaam nie. Maar daaroor kan ons ʼn ander keer gesels.

In hierdie gedeelte wil ek beklemtoon dat hierdie sukses en bewyse van seën in ons besigheid ook vir ons erkenning en respek gaan meebring daar in die markplein. Dit gaan die deure en platforms vir ons gaan oopmaak van waar ons dan kan getuig oor wat die werklike redes vir ons sukses, groei en goeie resultate in ons besigheid was.

Dit is wat ons geleenthede gaan gee om ons storie te vertel hoe die goeie nuus van die Koninkryk ons eie lewe en ons besigheid, en die manier hoe ons besigheid doen, radikaal verander het.

Dit bied ons die geleenthede om daar in die markplek, in die taal van die markplek, te vertel hoe ons oë oopgegaan het vir wat en hoe Jesus dinge gedoen het in Sy dag hier op aarde.

Ja, hoe Hy letterlik lewe en dit in oorvloed midde ʼn wêreld vol nood, lyding en armoede bedien het.

Soos Hy self daar in Nasaret net na Sy salwing met die Gees getuig het, gaan dit wat in Jesaja 61 geprofeteer het, letterlik begin gebeur waar Hy is en beweeg.

In Jesus se tyd was dit midde ʼn baie destruktiewe Babiloniese kultuur van gierigheid, selfgerigheid, vrees en korrupsie. Ja, selfs midde ʼn gemeenskap waar die tempel en tempelamptenare deel was van hierdie kultuur wat elke lid van die Joodse volk stelselmatig, dag vir dag, geplunder het totdat die grootste meerderheid van hulle in ekstreme armoede gedompel was.

Dit is immers wat gebeur waar besigheid, in welke vorm ook al, gedryf word deur gierigheid en selfgerigtheid. Menslike lyding en ekstreme armoede is altyd die gevolg daarvan en lei uiteindelik selfs tot die dood.

Vriende, kyk net rondom jou rond! Kyk verby die oppervlakkige tekens van sukses en groei, en begin om raak te sien wat hierdie sogenaamde sukses en groei in werklikheid kos!

Begin om die armoede en miljoene werklose en arm mense raak te sien wat dakloos en sonder heenkome agtergelaat is.

Begin om al die slagoffers raak te sien wat oral langs die pad uitgeval en omgeval het omdat hulle net doodgewoon deur ʼn wrede ekonomiese sisteem uitgespoeg word omdat daar vir hulle gesê is dat hulle nie meer iets werd is nie.

Sien die demoniese ekonomiese dier raak, met die god, Mammon, op sy rug, wat deur die wêreld stap en verwoesting saai oral waar hy gaan, net soos Openbaring vir ons geteken het.

Hoe sê die Woord? Satan en sy magte is dag vir dag besig om mense te belieg, te bedrieg, by hulle te steel en hulle dood te maak.

Dit is wat gebeur waar Mammon in beheer is. Dit is die wrange vrugte.

Dit is waarom die goeie nuus oor ʼn alternatiewe kultuur en ander manier van doen, God se Koninkryks-kultuur en manier van doen, gedryf deur genade en liefde, vrygewendheid en mededeelsaamheid, so noodsaaklik is en ʼn vars bries sal wees in die ekonomie en die markplek.

Dit is waarom die goeie nuus oor die Koninkryk die antwoord is waarna die hele wêreld al vir soveel eeue soek.

Daar waar besigheid oor mense en hulle behoeftes loop en alles net gaan oor geld en net nog meer geld, sien ons oral rondom ons net stukkende en arm mense.

Maar daar waar ons bereid is om vrygewig van die koek op die tafel met almal betrokke te deel, in elke transaksie wat ons doen, begin sien ons hoe almal baat en hoe almal begin vooruit gaan.

Dit is wanneer ons mense werklik begin bemagtig en help om te ontwikkel in besigheidsvennote met wie ons ook in die toekoms weer en weer kan besigheid doen.

So word sistemiese armoede transaksie na transaksie oorwin en mettertyd gebreek.

So ontdek ons tot ons verbasing dat as ons dinge op die manier doen, daar uiteindelik vir almal genoeg is.

Hoe het Jesus gesê: Ek het gekom dat julle lewe en dit in oorvloed kan hê!