In watter kerk is jy?

 

Ek hoop hierdie vraag het jou ongemaklik gemaak! Want iemand wat die Evangelie van Jesus en die Bybelboodskap, veral vanuit die Nuwe Testament, verstaan, behoort net een antwoord te gee op hierdie vraag, naamlik: Ek is ’n gelowige volgeling van Jesus Christus, en is dus deel van Sy een Ekklesia, Sy een Liggaam, waarvan Hy alleen die Here en die Hoof is.

Hoe belangrik is hierdie antwoord nie juis in hierdie dae nie! Rondom ons lê dit wat die wêreld ken as “die kerk”, versnipper! Bid jou aan, net in Suid-Afrika alleen, is daar meer as 30 000 verskillende “kerke” of kerklike organisasies, elkeen met ‘n eie naam, selfs eie belydenisse en leringe, eie geboue, ens.

Die tragedie word soveel erger as jy begin luister na wat elkeen te sê het oor hulleself en oor die ander 29 999!

Elkeen glo net hulle het die volle waarheid beet en daarom moet almal wat in hierdie waarheid wil glo, “by hulle aansluit of lid word”! En veral as jy ’n leraar en bedienaar van die Woord is soos ek, moet jy eers “by hulle aansluit en ’n lid of lidmaat word” voordat jy toegelaat word by die meeste van hierdie gemeentes om die Woord te bedien!

Hoekom skryf ek hieroor na verlede keer se gesprek oor hoe iemand lyk wat deel is van ‘n “skaap nasie”?

Omdat dieselfde beginsels in albei gevalle geld. Kom ek wees baie persoonlik en praat oor Afrikaanssprekendes en Afrikaners soos wat Paulus oor die Joodse volk praat waaruit hy afgestam het.

Onthou jy nog sy woorde daar in 1 Kor. 9:19 en 20?

“Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.

Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen.”

Maar tog moes hy op ’n stadium, nadat hy malesondertal die Evangelie aan hierdie Joodsevolk en taalgenote van hom verkondig het, moes hy op ’n stadium, uit gehoorsaamheid aan die roeping en opdrag van Jesus as die Hoof en Here van die Liggaam, die stof afskud van sy voete en begin fokus en homself toespits om teenoor nie-Jode (“heidene”) die Evangelie te verkondig.

Wat dit vir Paulus soveel moeiliker gemaak het, was dat hierdie Joodse volk nog boonop die volk en nasie was wat God soewerein gekies het om die “baarmoeder” te wees uit wie die Messias, die Verlosser van die wêreld gebore sou word.

Maar terwille van die waarheid moes Paulus, onder die inspirasie van die Gees, as deel van die Waarheid, daar in Kol. 3:11 sê: “Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.”

Ja, al is ons hart dat nasies en volke “skaap nasies” word wat die Evangelie van Jesus glo en bely, en wat Jesus as Here en Koning in elke area van hulle lewe gehoorsaam en dien, behoort ons almal, na ons weergeboorte, uiteindelik net aan die een volk en nasie, naamlik die volk en nasie waarvan Petrus onder die inspirasie van die Gees getuig daar in 1 Petrus 2:9 tot 11, as hy sê:

“Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys.

Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners.”