In die ware Bybelse Kerk of Ekklesia is ons almal EEN

Aan die begin van hierdie jaar het die Here hier in Suid-Afrika 300 leiers uit alle sektore van hierdie land byeen geroep om aan hulle ʼn strategie te gee om as ambassadeurs van die Koninkryk iets van die werklikheid van “hemel op aarde”, in diens van Koning Jesus, ʼn werklikheid te maak rondom ons in Suid-Afrika.

Die hel en die werklikheid van die hel is hier rondom ons los en dit is tyd dat ons wat volgelinge van Jesus is, moet sê: Genoeg is genoeg! Dinge moet nou begin verander!

Die vraag aan elkeen van ons is: Gaan jy deel wees van die oplossing of deel wees van die probleem? Gaan jy deel wees van die “Gideonsbende van 300” wat God wil gebruik om in Jesus se Naam, in diens van die deurbreek van Sy Koninkryk daar rondom jou, ʼn verskil te maak, of nie?

Weet jy wat was die oorhoofse tema-woord wat Koning Jesus ons gegee het, wat ons aanmekaar moes vasbind en ons leuse moes wees? “Stand as One!”

Die agtergrond hiervan was dit wat Jesus oor Sy Kerk, Sy Ekklesia, in die Woord sê: Julle is deel van My Een Liggaam, waarvan Ek die Hoof is!

Hoef ek vir jou te sê waar dit oral in God se Woord, die Bybel, staan?

Gaan lees maar dit wat Jesus self daar in Johannes 17 in Sy gebed aan die Vader gesê het toe Hy oor en oor gesê het: “sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.”

Of daar in 1 Korintiërs, soos in hoofstuk 12, waar die Gees van God oor en oor vir ons die Bybelse Kerk of Ekklesia teken as EEN LIGGAAM, met baie ledemate!

Het jy gehoor? EEN LIGGAAM! Nie soos in Suid-Afrika 30 000 liggame nie!

As jy dus in ʼn deel van die ware Kerk van Jesus lokaal, daar in jou dorp of stad of omgewing, deel van ʼn gemeente is wat nog glo dat net julle “brand” van die Kerk van Jesus die ware kerk van Jesus is, dan moet jy begin luister na wat God vir jou hieroor wil sê!

As julle dink dat net julle die volle waarheid beet het, en dat al die ander daarbuite eers deel van julle “brand “ moet word, eers lidmaat by julle moet word voordat hulle die volle waarheid sal hê, moet jy weet dat julle “brand” van “kerk-wees”, of dit nou Hill Song is, of die AGS is, of dalk een van die “Gereformeerde” kerke is, is jy saam met daardie “brand” van kerk-wees besig om ʼn ander koninkryk te bou as die ware Koninkryk waarvan Jesus en die res van die Nuwe Testament oor praat!