Nog ’n keer oor Ef. 2:5 tot 7

 

Kom ek haal Ef. 2:5 tot 7 net weer hier aan:

“Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!

Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.”

As agtergrond, onthou waarmee ons in die groter reeks mee besig is. Ons is besig om vir mekaar te vertel dat sedert die koms van Jesus hier op aarde, iets van die hemel besig is om nuut hier op aarde deur te breek!

Om dit ’n bietjie meer persoonlik te maak: Met ons wedergeboorte en bekering het iets daarvan ook nou in ons plaasgevind! Nog nie volledig nie. Natuurlik nie! En as bewys daarvan hoef jy maar net te kyk na waarmee jy nog in jou eie lewe worstel elke dag.

Daarom woon die Heilige Gees in jou. Om dit wat Hy in jou gees gedoen het met die wedergeboorte, ook nou te doen in jou sielsarea, en selfs ook in jou liggaam.

Ja, dit wat daar in jou liggaam hier op aarde gaan deurbreek, gaan nog nie die hele volledige prentjie wees van wat hierdie nuwe skepping en hemel hier op aarde behels nie. Daarom gaan hierdie “verlossing” en “genesing” wat in jou liggaam gaan gebeur altyd net gedeeltelik wees.

Ja, gedeeltelik, want uiteindelik gaan hierdie fisies-chemiese liggaam van jou, wat nou net ’n tent is waarin jy hier op aarde woon, hier op aarde agtergelaat word, sodat jy ’n nuwe liggaam kan kry in die lewe wat wag anderkant die graf. Ja, ’n nuwe liggaam soos wat Jesus na Sy dood en opstanding gekry het.

Daarom moet ons, soos Gal. 5 vir ons so treffend gesê het, die Heilige Gees en Jesus in ons, toelaat om heeltyd op die troon in ons lewe te sit en om in beheer te wees.

Waar Hy in beheer en op die troon is, soos waar Hy reeds in die hemel op die troon sit, begin iets van die hemel in my lewe, deur my en rondom my, ook deurbreek! En so word ek dan werklik ambassadeur en bedienaar van iets van die hemel hier op aarde! Selfs daar in die markplek!

So staan daar in Ef. 2: So “... sodat God... sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.”

Daarom moet ek en jy, elke dag, aan die begin van die dag, net weer hierop fokus en kies dat dit ook vandag waar sal wees in ons lewe.

Sien, omdat ons posisie verander het deur God se genade, kan ons kondisie elke dag ook anders wees. En omdat ons kondisie anders is, kan God ons gebruik om Sy genade in en deur ons te laat vloei sodat ander en alles rondom ons ook kan verander.

Dan kan die Here jou gebruik, in die woorde van Mat. 25, om aan mense wat honger is, iets te gee om te eet. Om aan mense wat dors is, iets te gee om te drink. Om vreemdelinge te huisves en ’n dak oor hulle kop te gee. Om mense wat nie klere het nie, klere te gee. Om mense te verpleeg wat dit nodig het. Om diegene in die tronk, te gaan besoek.

So gebruik God ons dan om te “… laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.”