Ef. 2: 5 tot 7

 

Verlede keer het die Here ons herinner aan die volgende: Ek het in Jesus Christus, in Sy kruisiging en dood, Sy begrafnis, Sy opstanding, en in die koms van My Gees om in en op My mense te wees, alles, alles, alles wat julle mag nodig kry of vra, reeds voorsien!

In hierdie gedeelte en volgende gedeeltes wil ek Ef. 2:5 tot 7 gebruik om ’n bietjie verder daaroor te gesels.

Kom ek haal Ef. 2:5 tot 7 vir jou aan:

“Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!

Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.”

’n Mens kan dit so mooi in Engels sê: “From the grave, into grace!”

Net een letter in die woord het verander, maar wat ’n reuse verandering was dit nie!

Ek is saam met Christus gekruisig. Wat beteken: die ou Christo, met alles wie en wat en hoe hy was, is nou dood! Daarom het ons hom “begrawe” in die doop in water, sodat hy nie verder kan stink hier tussen ons nie!

Daarom het die vroeg-Christelike gemeentes op daardie selfde dag wat iemand tot bekering gekom het toe hulle Jesus aanvaar het in geloof as hulle Verlosser en Here, daardie selfde persoon gaan “begrawe” deur hulle te onderdompel in die doop met water! (Kyk maar wat in Rom. 6 hieroor staan.)

Maar omdat God nou jou as wedergebore en bekeerde mens beskryf as dat jy nou ook opgestaan het saam met Christus, het hulle jou nie daar in die “water-graf” gelos nie! Hulle het jou onmiddellik uit die doopwater uitgelig om vir jou fisies te wys en te laat beleef wat God nou oor jou sê.

Sien, in Christus is jy nou lewend gemaak as ’n nuwe jy deur God se genade!

Jou gees is nuut en lewend, want Christus Jesus, deur die Heilige Gees, het jou uit genade nuut en lewend gemaak, en Hy woon nou self in jou, om Sy lewe in en deur jou te lewe.

Al is hierdie verandering in Engels net ’n verandering van een letter in die woord “grave” na “grace”, is dit in werklikheid jy wat deel geword het van ’n nuwe skepping wat hier op aarde besig is om plaas te vind. Christus Jesus was die “Eersteling” van hierdie nuwe skepping, en nou het jy ook deel daarvan geword.

Kou ‘n bietjie daaraan!