Deel 5 van Profetiese woord vir 2024 en volgende jare - Na wie se stories luister jy?

 

Hierdie gedeelte van die profetiese woord vir 2024 gaan seker die kortste deel wees van die woord, maar moenie ’n fout maak nie. Dit gaan seker een van die belangrikste dele wees van die Woord!

Kan ek jou net eers herinner daaraan dat jy die vorige dele van die Profetiese woord vir 2024 en daarna kan kry onder Nuusbriefies op ons webblad by www.nuwewyn.co.za

Die Skrifgedeelte waarop die Here ons aandag vandag vestig, is daardie Woord in Josua 1 en 2.

Gaan lees dit asb., vir jouself!

Toe, gaan doen dit gou, asseblief!

Het jy al gesien hoeveel mense loop deesdae rond met oorstukkies in hulle ore? Ja, sommige loop selfs met hierdie groot luukse oorfone op hulle ore in die straat en in winkelsentrums!

Ek kyk graag F1-reisies. Elkeen van daardie jaers in daardie resies het die heeltyd hierdie klomp stemme in hulle ore.

Vandag wil ek vir jou vra, na watter van die vier stemme wat jy elke dag in jou ore hoor, luister jy?

Luister en glo jy alles wat daardie vrugbare brein van jou aan jou opdis deur die gedagtes en gevoelens wat by jou opkom?

Het iemand al ooit vir jou gesê en geleer hoe om ’n slag baie krities te begin luister na hierdie stem in jou lewe?

Ja, om soos 2 Kor. 10:3 tot 5 vir ons sê, elke gedagte of emosie letterlik by die bors te gryp en vir hulle te vra: Van waar af is jy? Is jy die waarheid? Of kom jy direk uit die hel?

Kan ek vir jou vra: Wat maak jy met daardie tweede stem wat gedurigdeur in jou ore praat? Ja, daardie stem van die mense om jou, jou maats, en die gemeenskap om jou?

In ons kinders en tieners se lewens, praat ons mos hiervan as “groepsdruk”. Maar almal van ons hoor gedurigdeur hierdie stem praat met ons. Deur die TV, sosiale media, koerante, en die mense se gepraat rondom ons by die werk of op straat of by die braaivleisvuur.

Wat maak jy met hierdie stem in jou lewe?

Glo jy alles wat jy hoor of lees? En praat jy lustig saam?

Die derde stem wat elkeen van ons dag vir dag hoor, is die stem van die bose. Ja, jy hoor sy stem gereeld in jou ore!

Die moeilikheid is net dat die meeste van ons nie eers besef dat dit hy is wat praat nie.

Veral nie as hy met ons praat hier van binne af, deur die gedagtes of emosies wat by ons opkom nie!

Ja, hy praat met jou presies soos wat hy met ’n Eva, en ’n Adam, daar in die Tuin gepraat het. (Gaan lees maar weer mooi wat daar in 2 Kor. 11:3 en 4 hieroor staan.)

Die vierde en laaste stem wat met elkeen van ons elke dag praat, as ons stil genoeg word en mooi genoeg luister, is God se stem.

En Hy praat op baie maniere met ons.

Natuurlik praat Hy deur Sy Woord, die Bybel, en elke woord daarin wat korrek vertaal en in konteks verstaan word.

Maar Hy praat ook met ons deur Sy Gees, wat hierbinne in elkeen van ons woon wat gelowige volgelinge van Jesus is.

En dan praat Hy ook met ons deur ander gelowiges.

En deur die gawes van die Gees, soos deur die gawe van lering, wysheid, kennis en onderskeiding van geeste.

Ja, en soms praat Hy met ons deur gebeure, deur die natuur, en soms selfs deur ’n donkie, as ons na niks anders wil luister nie!

Na wie se stem luister jy in jou lewe?

As ek luister na jou storie, en dit wat uit jou mond uit kom, vertel dit vir my baie dinge!

Maar die belangrikste is dat dit my vertel na wie jy luister.

Onthou dan die gebeure daar in Josua 1 en 2.

En onthou hoe, 40 jaar vantevore, die volk, Israel, na die stemme van 10 manne geluister het en geglo het wat hulle sê.

Dit het veroorsaak dat almal bo 20 (Num 14:29), behalwe Kaleb en Josua, gedurende die volgende 40 jaar in die woestyn sou sterf en dat hulle nie die Beloofde land van melk en heuning sou beërwe nie.

Daarom vra ek weer vir jou: Na wie en watter stemme luister jy?