Maak die mense My dissipels (Deel 7)

 

Ek het mos 'n Toep of App vir jou selfoon gebou waarmee jy iemand anders kan dissipel soos Jesus ons geleer het.

Hier is die skakel waarmee jy die toep/app gratis kan aflaai op jou selfoon. https://journey.beezer.com/

Volg maar net die eenvoudige instruksies.

Hier is ook die meegaande webblad wat ek en my vriend, Johan Badenhorst van Bloemfontein, ontwerp het om jou verder hiermee te help: https://journey.beezer.com/

Einde van verlede jaar was ek besig met 'n reeks om jou te help hoe om hierdie toepassing te gebruik om met iemand oor Jesus te praat en hulle te dissipel.

Ek wil graag 'n bietjie verder gaan hiermee. Daarom ontvang jy vandag reeds DEEL 7 van hierdie reeks. (Die vorige dele van die reeks kan jy op my webblad https://nuwewyn.co.za/ onder NUUSBRIEFIES kry.)

Wanneer ek en jy mense wil “dissipel” soos Jesus ons geleer het in Mat. 28:19, kan ons ’n paar roetes (ROUTES op die toep, JOURNEY OF DISCOVERY) gebruik om dit te doen.

Maak die Toep, JOURNEY OF DISCOVERY, oop en dan verduidelik ek hoekom ek juis hierdie Roetes gekies het as opsies.

ROETE 1
Om iemand anders te “dissipel” soos Jesus ons opdrag gegee het om te doen, beteken heel eerste dat ons met hulle begin gesels oor wat God deur Sy Woord, die Bybel, aan ons sê oor Jesus.

As iemand vir jou sou vra om in ʼn sin of twee op te som waaroor die inhoud van die hele Bybel, Ou en Nuwe Testament, handel, dan is die antwoord baie eenvoudig: Die hele Bybel gaan uiteindelik oor Jesus.

In die Ou Testament lees ons oor hoe die God van die Bybel Homself bekend gemaak het aan mense en met hulle ʼn pad begin stap het, alles ter voorbereiding vir die koms van die Messias, God self, wat as ʼn mens na hierdie aarde toe gaan kom.

In die Nuwe Testament, veral in die eerste vier boeke genaamd Evangelies, lees ons dan oor die koms van hierdie Messias, in die persoon van Jesus van Nasaret, wat tussen 3 v.C. en 30 n.C. in Israel gelewe het, gekruisig is, begrawe is, en na 3 dae uit die dood opgestaan het om vir 40 dae daarna Homself lewend te vertoon aan meer as 5000 mense.

Die res van die Nuwe Testament handel dan oor hoe die Persoon, Lewe en Woorde van Jesus, en ʼn daaglikse liefdesverhouding met Hom, die lewe van Sy volgelinge dramaties verander het, en hoe die God van die Bybel Homself as Vader, Seun en Heilige Gees geopenbaar het aan mense en letterlik met hulle op baie wyses gepraat het.

Daarom bestaan ROETE 1 uit ʼn begeleide toer om die kern evangelieboodskap oor hierdie Jesus met elke mens te deel vanuit die Bybel.

Ons eerste vraag aan elkeen met wie ons die Evangelie wil deel moet daarom altyd iets soos die volgende klink: Wat dink jy oor die Jesus waarvan die Bybel ons vertel? Wie is Jesus vir jou en wie was Jesus werklik?

In ROETE 2 word mense geleentheid gebied om meer as 20 verskillende Skrifgedeeltes te gaan lees en te luister wat God self in die Ou Testament en in die Nuwe Testament oor Homself as die Messias en dan in die persoon van Jesus van Nasaret aan ons gesê het.

Omdat ons immers glo dat God self aan die woord kom wanneer mense die Bybel met ʼn openheid lees, gaan die wonder gebeur dat hulle God in die Persoon van die Messias, Jesus Christus, gaan ontmoet en dit kan hulle hele lewe verander!

Om dit wat in hierdie meer as 20 gedeeltes in die Bybel staan, opsommend saam te vat, eindig ROETE 2 weer met die samevatting van die Evangelieboodskap oor Jesus.