Maak die mense My dissipels (Deel 8)

 

NB: As jy nog nie die Toepassing, JOURNEY OF DISCOVERY, gaan aflaai het wat ek vir jou en andere gebou het om iemand Bybels te "dissipel" nie, gaan laai dit af deur die volgende instruksies te volg:

Hier is die skakel waarmee jy die toep/app gratis kan aflaai op jou selfoon. https://journey.beezer.com/ Volg dan maar net die eenvoudige instruksies.

Hier is ook die meegaande webblad wat ek en my vriend, Johan Badenhorst van Bloemfontein, ontwerp het om jou verder hiermee te help: www.journey-of-discovery.co.za

Hoe dissipel ek iemand verder?

As ek en jy vandag, in die 20ste eeu, met mense oor Jesus, oor God en selfs oor die kerk praat, moet ons altyd ʼn paar belangrike dinge in gedagte hou.

Dit is belangrik om te onthou dat Jesus self as ʼn mens hier op aarde geleef het van 3 v.C. tot 30 n.C.

Terwyl alles wat God verskillende mense geïnspireer het om oor Hom te skryf in die Nuwe Testament, om en by reeds in die jare 50 tot 70 n.C. geskryf is.

Met ander woorde, tussen my en jou en hierdie gebeure in die Nuwe Testament, lê reeds meer as 1900 jaar.

Hoekom dit vir ons belangrik is om te onthou, is om mooi te dink oor wat sê ʼn mens vir iemand wat sopas vir die eerste keer in hulle lewe werklik van Jesus Christus en die kern evangelieboodskap oor Hom gehoor het. Hoe nou verder? Wat is belangrik om te onthou wanneer ons teenoor so iemand getuig oor Jesus? Wat moet ons sê?

Jesus self het aan ons gesê dat as iemand Hom as Verlosser en Here aanneem in geloof, is dit in werklikheid soos ʼn wedergeboorte wat hier voor ons oë plaasvind. (Kyk maar hoe sê Jesus dit daar in Johannes 3.)

Dit maak van my en jou as’t ware soos die destydse “vroedvroue” wat bygestaan het as ʼn nuwe baba gebore word (want dit het meestal nie in hospitale, waar daar dokters was, gebeur nie).

Die logiese vraag in die lig hiervan is dus of daar iets is wat ons moet doen om te sorg dat hierdie “geestelike geboorte” so natuurlik en so kort moontlik kan plaasvind terwille van die geestelike gesondheid van die nuwe geestelike baba?

Daarom is dit so belangrik om weer te gaan kyk hoe dit in die Vroeg-Christelike gemeentes gebeur het en wat hulle gedoen en gesê het, alles in gehoorsaamheid aan wat hulle by Jesus geleer het om te doen.

ROETE 3

Daarom word elke gebruiker van hierdie Toep, JOURNEY OF DISCOVERY, in ROETE 3, geleentheid gegee om te gaan kyk hoe die gelowiges in die Vroeg-Christelike gemeentes daar in die begin dinge gedoen en gesê het.

In ROETE 3 word dit opgesom in 7 “STOPS” of bestemmings waar elkeen geleentheid kry om na God te luister en by Hom te hoor wat Hy hieroor in Sy Woord sê.

Kan ek ʼn stukkie persoonlike getuienis in die verband vir jou vertel?

Soos jy weet het ek en my vrou, Hetta, die voorreg om vanjaar, 2024, reeds vir 46 jaar voltyds in diens van Koning Jesus, in Sy Ekklesia of Kerk te wees. Toe die Here my in 1993 opdrag gee om Sy opdrag in Mat. 28:19 te gehoorsaam om mense Sy dissipels te maak, hulle te doop en dan alles te leer wat Hy ons geleer het, moes ek my hele bediening van die vorige 14 jaar (op daardie stadium) in heroorweging geneem en baie krities ondersoek of ek werklik in die tyd gedoen het wat Hy ons opdrag gegee het om te doen.

Jy ken reeds die storie oor my skokkende ontdekking in 1993, toe ek reeds amper 15 jaar ʼn NG Kerk-dominee was. Ja, hoe ek ontdek het dat die “doop” wat ek aan babas van gelowiges bedien het, glad nie ʼn Bybelse doop was nie!

Tot my verbasing het ek ontdek dat die Bybelse doop ʼn DOOP VAN GELOWIGE MENSE was wat net bedien kan word as mense, as kinders of volwassenes, gekies het om in Jesus as Verlosser te glo!

ʼn Volgende ontdekking was dat Jesus, my Verlosser en Here, ook die Doper met die Gees was. Wat gevolg is deur my eie “herontdekking” van die gawes van die Gees!

Seker een van die mees ingrypende openbarings was toe God self, deur Sy Woord, vir my wys dat ʼn “normale geestelike geboorte” dus, wat Jesus “wedergeboorte” genoem het, in die Vroeg-Christelike gemeentes, volgens God se Woord, uit vier dinge bestaan het wat alles op Dag 1 in so ʼn nuwe bekeerling se lewe normaalweg plaasgevind het!

Dit alles het ek in ROETE 3 ingebou sodat elkeen wat die Toep gebruik, geleentheid kan hê om net met God se Woord op hulle skoot, self hierdie dinge uit die mond van die Lewende God te hoor!

O, hoe begeer ek dat iemand dit vir my gesê en geleer het toe ek destyds in my eie lewe op 10 Oktober 1969, tot bekering gekom het! Watter verskil sou dit nie aan my geestelike groei veroorsaak het nie as ek reeds op daardie dag in water gedoop kon word en sommer daardie selfde dag deur handoplegging van ander gelowiges rondom my ook gedoop kon word met die Gees en Sy gawes!

Dit alles leer elke gelowige dit nou deur hierdie Toep op hulle eie selfoon!