Stap 5 van Bybelse vergifnis (Deel 9, die laaste deel van die reeks)

Die vyfde en laaste stap van Bybelse vergifnis is om dan daardie mens of mense wat my verwond het, en wie ek nou gekies het om Bybels te vergewe, te “Bless” of te seën deur waar moontlik, goed te doen aan daardie mense.

Dit is hieroor wat Mat. 5:44,45 praat as daar staan: “Wees lief vir die mense wat julle vyande is (en julle verontreg en gewond het). Ja, selfs diegene wat julle vloek, en julle haat. Bid vir hulle. Sodat julle kan wees soos julle Vader.”

Onvergewensgesindheid maak immers dat ons nie kan lief hê nie, en nie kan seën en dit bedoel nie. Ons kan nie eers opreg vir sulke mense bid nie. Ons kan ook nie werklik met opregtheid goed doen aan so iemand nie.

Kyk mooi wat staan in hierdie verse. Elke werkwoord wat hier gebruik word, staan in die imperatief en dit is ʼn opdrag wat geld vir nou en al die tyd hierna.

Daarom, wees lief vir hulle... al die tyd... ongeag die omstandighede of wat hulle aan julle doen.

Seën hulle... al die tyd. Al is hulle besig om ons te vloek, of te haat, of te verontreg.

Doen goed aan hulle.

Bid vir hulle.

Daarom sê Ef. 4:32: Vergewe mekaar.

As jy vergewe, kan God jou seën.

Kom ons sluit af deur oor alles wat ons tot hier gehoor het oor Bybelse vergifnis, te reflekteer:

Dink aan die mens wie die moeilikste vir jou is om te vergewe. Watter van hierdie 5 stappe is vir jou die moeilikste in dié betrokke geval?

Kies dan om die volgende te doen:

Maak jou oë toe en stap na die tronk in jou hart. Vra die Here om vir jou die gesigte te wys van elke persoon wat daar opgesluit sit.

Moenie haastig wees nie. Maak dan ʼn lys van hulle (met hulle name of voorletters).

Want hulle sit daar en hoop en vertrou dat jy sal kies om hulle tronksel binnekort te kom oopsluit en om hulle vry te laat.

Wees asseblief gehoorsaam!

Miskien het jy reeds begin om hierdie mense te vergewe. Beskryf hoe jou lewe sal wees as jy hulle almal alles vergewe het, en sien en hoor hoe God die foltering (“torment”) aflas wat tot nou toe nog in jou lewe aanwesig is.

Kan ek dan, ten slotte, afsluit met ʼn baie persoonlike vraag: Gaan jy kies om almal alles te vergewe vir waar hulle jou verontreg of verwond of teen jou gesondig het?

En indien nie, waarom nie?

(As jy na die belangrikste punte rondom vergifnis weer wil luister vir 'n laaste keer, gaan luister weer na daardie YOUTUBE-boodskap wat ek hieroor bedien het: https://youtu.be/ITKgew8QYo4?si=0NTe8_YNiw3aY9v4