Jesus in ons (Deel 3)

 

Mense van God, luister na wat God se Gees oor Jesus sê; die Jesus wat nou ook in elkeen van ons is en woon! Luister wat Hy oor Hom daar in Kol 1, van af vers 15, sê. Gaan lees dit net weer ʼn keer vir jouself.

Die verhaal oor wie hierdie Jesus is, begin reeds van voor die skepping van die wêreld af. Toe God, as Vader, Seun en Gees, saam besluit het oor wat die hart en bedoeling van alles sou wees.

Dit was voor daar enigiets anders was. Dit was voor Gen. 1 se woorde: Laat daar wees…

Onder die inspirasie van die Gees, noem Paulus hierdie hart en bedoeling van alles, daar in Efesiërs, die Ewige, Aller Bedoeling van God met alles wat Hy verder sou skep en sou laat gebeur.

Wat is daardie Ewige Bedoeling, of Rede, vir alles wat ek en jy rondom ons kan sien en sien gebeur?

Ons kan seker vir die res van ons lewe probeer om dit te ontrafel en te verduidelik. Maar, baie vereenvoudig, gaan ek probeer om dit in my eie woorde te sê:

God wou Homself, Sy eie Lewe, die Lewe en Essensie van die Lewe wat in Hom was, gee vir ʼn wese wat nog nie bestaan het nie.

Hy wou hierdie Lewe en die Essensie van hierdie Lewe wat in Homself was, met hierdie wese deel. Ja, op so ʼn wyse dat hierdie wese dit gaan sien, ervaar en beleef.

Om dit te laat gebeur, begin God skep.

Hy skep eers ʼn onsigbare wêreld en dan skep Hy ʼn sigbare wêreld.

In die boek, Kolossense, openbaar God se Gees aan ons hoe God die Vader alles, sigbaar en onsigbaar, skep vir Sy Seun, deur Sy Seun en tot die glorie van Sy Seun.

Dan doen die Vader iets merkwaardigs. Kolossense sê dit so. Hy neem as’t ware alles wat Hy geskape het, en die rede waarom en vir wat Hy dit alles geskape het, en rol daardie bedoeling en diepste rede en bestemming van alles toe, en steek dit letterlik vir eeue weg.

Daardie ewige geheim word skielik uitgehaal en onthul vir elkeen wat Jesus van Nasaret herken as die Messias, die Verlosser, Here en nuwe Koning op aarde!

Hierdie merkwaardige onthulling begin dus gebeur wanneer God die Seun ʼn mens word en gebore word hier op aarde op 11 September 3 v.C., en sterf op die 9de April 30 n.C.; om dan op te staan uit die dood op 12 April 30 n.C.

Eers dan word wat eers net ʼn misterie was, geopenbaar as waaroor alles eintlik van die begin af gegaan het!

Hierdie Jesus, die Lewe van God, God self, wat die essensie is van wie en wat God is en wil wees, hierdie Jesus Christus bewerk ook nou wonderbaarlik ook lewe in elkeen wat Hom in glo!

Die wonder is dat hierdie Jesus nou ook in jou as gelowige woon! Hy woon in jou lyf!

Wanneer ek en jy dit ontdek en ons oë hiervoor oopgaan, ontdek ons iets van die wonderlike misterie dat alles wat die vinger en hande van God geskape het, op die een of ander manier iets van hierdie Christus openbaar en weerspieël!

Of dit nou die water van die see of die rivier is, of die plantlewe is. Of dit wat jy ontdek as jy tussen die berge en klowe rondstap, of jy wat jy ontdek as jy sou waag om te kyk na die maan of die sterrehemel daar bo.

As jy mooi en fyn kyk, gaan jy iets van die glorie, heerlikheid, en teenwoordigheid van Jesus die Christus daar ontdek!