Jesus in ons (Deel 4)

Ek is besig om saam met jou die Bybelboodskap oor die koms van die Koninkryk van die hemel hier op aarde in die Persoon van Jesus Christus te oordink en veral in die taal wat ons in Kolossense ontdek het.

In die boek, Kolossense, beskryf God die Gees deur ʼn Paulus hoe ons die onbeskryflike heerlikheid van die God van hemel en aarde, in die gesig en die persoon van Jesus Christus ontdek het.

Kom ek probeer om net weer die verhaal aan jou vertel soos die Bybel dit van die begin af vir ons vertel.

Daar, in die Genesis-verhaal, lees ons hoe God ʼn tuin geskep het. In die middel van die tuin het Hy hierdie baie spesiale boom geplant wat Hy die boom van die lewe genoem het.

Ja, hierdie boom het as’t ware lewe geasem en geklop.

Ons lees ook hoe God self die skepping en die mens wat Hy geskep het, uitgenooi het om deel te hê aan hierdie lewe.

Toe gebeur die tragedie van die sondeval!

God moet toekyk hoe die hele skepping en die wonderlike mens wat Hy geskape het, verval en misluk en teen Hom as hulle Skepper rebelleer.

In Sy wese is God goed en aan Sy liefde en goeie bedoelings is daar geen einde nie. Daarom gee Hy nie moed op met die mens nie. Nee, Hy kies om hierdie skepping van Hom te restoureer.

Hierdie keer kies Hy ʼn mens en sy gesin uit ʼn gebied waar ons vandag Saoedi-Arabië en Iran vind, en laat hom meer as ʼn duisend kilometer na ʼn vreemde maar wonderlike land van melk en heuning toe trek.

Uit hierdie man en sy familie, skep God weer vir Homself ʼn volk wat bykans ʼn eeu later, die moederskoot sou word waaruit die Christus gebore sou word.
Jy ken daardie volk as Israel.

Die storie van hierdie volk, Israel, is die storie van God wat Sy skepping en die mens wil terughê.

Maar weer ʼn keer, soos daar in die begin, faal Israel.

Selfs dit stuit hierdie genadige, liefdevolle God nie in Sy ewige bedoeling nie!
Hierdie keer doen God die ondenkbare! Kan jy dink, Hy besluit om self ʼn mens en deel van die skepping te word wat Hy met Sy eie hande geskep het.

God word ten volle mens, en op 11 September 3 v.C., gebore as ʼn baba daar in die dorpie, Bethlehem, in Israel.

Dan hoor ons hoe sing die engele oor Hom: "Kyk, ek bring vir julle ʼn goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!"

Dan hoor ons hoe die engele verder sing: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ʼn welbehae het!”