Jesus in ons (Deel 5)

Ons is so gewoond om die boodskap oor Jesus se koms te hoor dat ons die absolute wonder daarvan soms net totaal kan mis!

Kan jy dink dat die enigste ware God self ons kom besoek het omdat Hy nie Sy ewige plan en bedoeling wou laat gaan nie!

In ’n klein beteuderde dorpie in Israel, Nasaret, het Jesus tussen die ander kinders op die stofstrate gespeel.

Jare later het Hy by Sy aardse pa, Josef, geleer hoe om ’n houtwerk en steenwerk te doen en was hy ’n gewone loonarbeider en een van die armstes van die armes.

Tog het God, die Skepper van hemel en aarde, dit goed gedink om al Sy krag en glorie, ja, om Homself, in Sy volledigheid, in Jesus die mens, hier op aarde te kom vertoon.

Sodat mense hier op aarde, in Jesus, God self kon sien en beleef.

Ondenkbaar en onverstaanbaar wonderlik!

Hoor hoe vertel God die Gees deur ’n Johannes dit daar in Johannes 1.

In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.
Hy was in die begin by God.

Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.

En dan verder van vers 9:

In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.

En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

Die ware lig wat elke mens verlig, was aan die kom na die wêreld.

Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en tog het die wêreld Hom nie erken nie.

Hy het gekom na wat syne was en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie.

Maar aan almal wat Hom aanvaar het, het Hy die reg gegee om kinders van God te word – hulle wat in sy Naam glo.

Hulle is nie uit bloed nie, ook nie uit liggaamlike drang nie, ook nie uit die wil van 'n man nie, maar uit God gebore.

En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid.

Uit sy volheid het ons almal genade ontvang – ja, genade op genade.

Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.

Niemand het God nog ooit gesien nie; die unieke Seun, self God, wat teen die bors van die Vader is, Hy het Hom bekend kom maak.

Vriende, dit is Jesus! Dit is hoe die mense destyds in daardie sowat drie-en-dertig jaar, van 3 v.C., tot 30 n.C., Hom beleef, gesien en ervaar het!