Bedaar… Raak stil… Weet en beleef: Ek is die Here!

Ja, dit is wat die God van die Bybel, wat ek en jy leer ken het as ons Pappa-Vader, vir ons sê en belowe daar in Ps. 46.

Kom ek haal aan wat daar in vers 11 en 12 staan.

“Bedaar en erken dat Ek God is. Ek is verhewe bo die nasies, Ek is verhewe bo die aarde.

Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons, 'n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons.”

In hierdie feestyd wil ek jou hieraan herinner.

Ek weet nie wat alles in hierdie jaar met jou en jou geliefdes rondom jou gebeur het nie. Ek weet nie eens wat alles daar in jou eie lewe en gesin gebeur het nie. Ek weet ook nie waarmee jy of ʼn geliefde gesondheidsgewys, of emosioneel alles geworstel het in hierdie jaar nie. Miskien is julle in hierdie jaar finansieel en besigheidsgewys deur diep waters.

Of dalk, en daarvoor het ek die afgelope jaar ook vir jou gebid, was hierdie afgelope jaar werklik vir jou en jou familie ʼn jaar waaroor julle kan sê: Dankie, Here, vir hierdie jaar! U het ons werklik uit ons skoene geseën!

Wat ook al die geval is, kom ons fokus net vir ʼn oomblik weer op die woorde van Ps. 46:11 en 12.

Hoor jy hoe die Here ook daar vir jou sê: Bedaar… Raak net vir ʼn oomblik stil…

Soos ek vir myself elke dag aan die begin van die dag sê: Kom, haal net ʼn bietjie rustig asem! In… Uit…

Dan herinner ek myself daaraan dat die God, teen wie ek myself vasgeloop het in en deur die lewe van Jesus van Nasaret, daardie God… lewe en Hy is op hierdie oomblik hier by my en in my!

Ja, dit is dan wat ek myself herinner dat Hy met my en my geliefdes elke dag, elke oomblik van die dag, ook in hierdie jaar wat verby is, besig was en nog steeds besig is!

Ek weet nie watter beloftes en watter Woord die Here vir jou in die afgelope jaar gegee het nie. Tog wil ek jou juis daaraan herinner terwyl ons Ps. 46: 11 in ons mond en gedagtes rondrol.

Ek wil jou herinner dat jou Pappa-Vader ook in hierdie afgelope jaar,  daardie beloftes en Woord aan jou, op baie maniere, ja, selfs op maniere wat jy nog nie eers van bewus is of nog nie eers kon raaksien nie, waar gemaak het of besig is om dit waar te maak.

Beloftes soos Rom. 8:28 waar Hy belowe om alles, alles, alles, ook selfs dit wat in hierdie afgelope jaar gebeur het, gebruik en gaan gebruik… tot jou beswil! Hy is immers so lief vir jou!

Is dit dan nie juis die boodskap van hierdie feestyd aan ons nie?

Johannes 3:16-18 sê immers:

“Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie, maar wie nie glo nie, staan reeds veroordeel omdat hy nie in die Naam van die unieke Seun van God geglo het nie.”