ʼn Klompie Bybelse riglyne vir goeie finansiële bestuur en investering

Ek weet geld en goeie finansiële bestuur kan ʼn sensitiewe onderwerp vir volgelinge van Jesus in die huwelik, families en besighede wees. Dit mag egter nooit verhoed dat ons gereeld dit in die lig van die Woord steeds biddend bly ondersoek nie.

Onthou dat ons oogmerk en opdrag as volgelinge van Jesus immers is om alles wat ons doen in totale gehoorsaamheid aan Jesus as die Koning en Here elke dag te doen. (1 Kor. 10:31)

Een ding is seker, naamlik dat ons hantering van geld en finansies as gelowiges vir die Here van kardinale belang is.

Daarom is dit so belangrik om ons hart en maniere hoe ons dit doen, gedurig in die lig van Sy Woord te ondersoek.

In my en my lieflingvrou, Hetta, se meer as 47-jaar getroud wees, het die Here deur Sy Gees deur wonderlike, wyse medegelowige sakemanne en -vroue, ons belangrike Bybelse beginsels in die verband prakties geleer.

Hier is van die belangrikste daarvan:

1.     Niks is meer “ons eie nie”; alles is net onder ons bestuur! Die Engelse uitdrukking “assets under management” (of “AUM”) is goed bekend in die finansiële wêreld. Met ander woorde, baie prakties: Ons meet nie meer onsself finansieel en “finansiële sukses” aan die “net worth” van waarmee die Here ons vertrou het nie! Dit beteken egter nie dat ons nie baie verantwoordelik boekhou van die waarde van die bates en laste van waarmee ons hier besig is nie. Verantwoordelike begroting en boekhouding van die presiese syfers van inkomste en -uitgawes, ens., bly vir my en jou as volgelinge van Jesus van kardinale belang. Ons is immers net hier op aarde as bestuurders van alles wat aan God behoort. Hy is uiteindelik die Eienaar van alles: van al die eiendom en besighede, van die voertuie, en noem maar op. Om alles tot ’n syfer om te skakel, het ons die volgende sommetjie gemaak, naamlik: Waarde van bates MINUS waarde van laste/skuld = die werklike waarde van ons “assets under management”!

2.      Verder het ons geleer om werklik verantwoordelik daarna te strewe om nie 100% van wat ons ontvang (op watter wyse ook al), op ons self te bestee nie! Ons het oor die jare vanuit die Woord geleer hoe belangrik dit is om so gereeld as wat daar inkomste is, ’n deel daarvan in die Koninkryk en God se diens te gee; om ’n deel te gebruik om aan ander (nie-gelowiges) te gee wat in nood verkeer; ’n deel verantwoordelik “te spaar” of te belê met die oog op die toekoms; en om dan met die res wat oor is, al ons behoeftes en verantwoordelikhede na te kom. Dit is ons hart en begeerte elke maand! Ons kan immers nie elke maand ‘n 100% spandeer van waarmee die Here ons seën nie en dan dink ons is verantwoordelike bate-bestuurders nie! Natuurlik sal daar tye wees wat daar dalk nie genoeg is nie, en wat ons oortrokke moet gaan en dinge agterweë bly. Onthou, ek wil net prakties en baie eerlik in die verband wees! Onthou verder dat ek en Hetta in ’n geloofsbediening staan waar ons, soos jy ook, vir alles maar net van die Here afhanklik is. Dit beteken egter nie dat ons ooit ons eie verantwoordelikheid mag ontken om nie self, wanneer dit nodig is, uit te spring om ekstra inkomste deur een of twee of drie ander finansiële stroompies inkomste/besighede in te bring in ons huishouding en besighede nie. (Jy weet immers wat die Skrif oor ons verantwoordelikheid om te sorg vir ons geliefdes sê!)

3.     Om dit alles verantwoordelik te kan doen, beteken ten minste die volgende dinge: Om as ’n egpaar/familie/besigheid stelsels in plek te sit wat sal verhoed dat enigiets belangrik in die verband net ongesiens sal deurglip! Hanteer dus elke rekening, faktuur, en kwitansie met die nodige erns. Sit ook ’n ordentlike, maar baie realistiese begroting op plek waarby gedissiplineerd hou word en ons verantwoordbaar gehou kan word. Ek glo ook om so ver moontlik ,alle betalings wat gereeld gemaak moet word, te outomatiseer. Wilskrag en goeie bedoelings is nie altyd genoeg nie! Selfs in ’n mens se gereelde gee vir die Koninkryk, kan dit help as ’n mens op die een of ander manier jou gee of die bedrag waarop julle voor die Here oor sekerheid gekry het, selfs outomaties gekanaliseer word na ’n rekening wat uitsluitlik gebruik word om vanuit te gee vir die Koninkryk!

4.     Omdat ek en Hetta hierdie DING oor “skuld” het, (Rom. 13:8 dra vir ons ’n swaar gewig in die verband) en ons maagsenuwees dit nie kan hanteer nie, werk ons so gedissiplineerd moontlik met ons kredietkaart. Ons probeer om dit nooit vir normale uitgawes te gebruik nie, behalwe in noodsituasies. En dan probeer ons om aan die einde van elke maand dit volledig te betaal!

5.     Kan ek ten slotte sê: Finansies bly vir elke volgeling van Jesus ‘n geloofsaak waarvoor ons elke dag bid: Ons Vader wat in die hemel is... Gee ons ook vandag ons daaglikse brood! Elke dag kies ons om in geloof God te vertrou en om ons nie te bekommer as daar tekorte en onverwagse nood is nie!  En as daar is, wat in ’n geloofsbediening soos ons s’n gereeld gebeur, klou ons met mag en mening vas aan God se beloftes soos 2 Kor. 9:8 waar daar staan: “En God is magtig om alle genade oorvloedig vir julle te laat wees, sodat julle altyd in elke opsig selfversorgend kan wees, en oorvloedig kan bydra tot elke goeie werk.” En Fil. 4:12,13,19,20: ”Ek weet wat dit is om te min te hê, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê; ek is in elke opsig in al hierdie dinge ingewy: om versadig te wees, sowel as om honger te ly; om oorvloed te hê, sowel as om gebrek te ly. Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee... En my God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien, in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in Christus Jesus. Aan ons God en Vader kom die heerlikheid toe vir ewig en ewig! Amen.”