Mag ek maar nog ʼn keer gesels met jou oor wat Jesus ons geleer het in die gelykenis van die oneerlike bestuurder in Lukas 16?
Voel jy ook soos ek hierdie groot gemis omdat niemand vroeg genoeg in jou lewe vir jou werklik geleer het hoe om geld en goed reg te gebruik en reg te bestuur nie? Ja, natuurlik was dit in die eersteplek ouers se verantwoordelikheid maar wonder jy ook waarom onderwysstelsels nie plek maak in die leerplan vir goeie finansiële bestuur nie.
In my eie lewe het die grootste omkeer hier rondom gebeur toe God die Gees en Sy stem my ook in hierdie area van my lewe begin lei het en my nog steeds elke dag hier lei.
Ek het ontdek dat daar ʼn wêreldse verskil is tussen om bloot net “goeie” finansiële besluite te neem en om in wysheid gelei te word deur die Heilige Gees.
Sien, goeie Bybelse finansiële bestuur gaan nie net oor hoe ons geld en goed bestuur nie. Nee, dit is eerder ʼn refleksie van waar ons hoop, geloof en liefde werklik lê!
Jesus sê immers: “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” (Mat. 6:21)
Baie goedbedoelende mense kan finansiële sukses behaal, ruimhartig gee en selfs totaal uit skuld uit kom, maar tog nie hulle “skat” in ʼn “hemelse bankrekening” belê nie!
As ons nie heeltyd Jesus in die oog hou en gedissiplineerd luister na die stem van die Heilige Gees in hierdie area van ons lewe nie, loop ons gevaar om daardie verskriklike woorde eendag uit Jesus se mond te hoor: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af.” (Matt. 7:23)
Besef jy na al ons gepraat hieroor, dat jou hantering van jou finansies van lewensbelang is?
Dit is van lewensbelang om seker te maak dat God die Heilige Gees jou dag vir dag ook in jou besigheid, boerdery en persoonlike finansies sal lei in elke besluit wat jy neem.
Asseblief, ek probeer nie om jou hieroor te laat skuldig voel nie! Nee, ek wil jou in jou eie belang, aanmoedig om ook hiermee erns te maak!
Ek wil jou aanmoedig om ook in hierdie area van jou lewe, soos Gal. 5:16 sê, die beheer aan die Heilige Gees oor te gee en om te kies om onvoorwaardelik Sy stem ook in hierdie deel van jou lewe gedissiplineerd te gehoorsaam.
Hoe lyk dit prakties?
Hier is ʼn paar idees:
1. Om toe te laat dat die Heilige Gees ook oor hierdie deel van jou lewe die beheer oorneem beteken prakties om, voordat jy ooit weer enige belangrike finansiële besluit neem, net vir ʼn oomblik stil te word en die Heilige Gees uit te nooi om jou te lei. Miskien voel dit vreemd die eerste keer as jy dit doen, maar onthou: Hy gee om vir elke deel van jou lewe, en dus ook vir hoe dit finansieel met jou gaan.
2. Vra vir wysheid: Vra vir die Heilige Gees om jou oë oop te maak vir waar “jou skat” werklik lê en in watter dinge jy werklik sekuriteit soek en vind. Onthou, dit wat ons elke dag doen, praat baie harder as die mooi Sondagskool-antwoorde wat ons vir ander mense hieroor gee.
3. Soek Koninkryk-gefokusde oplossings: Onthou, daar is nie ʼn “one size fits all” finansiële oplossing as ons werklik die Koninkryk en wil van God begin soek in situasies nie. Wat vir jou buurman werk, mag dalk nie God se plan vir jou wees nie. Luister daarom baie sensitief na die stem van God die Gees om jou van situasie tot situasie te lei.
Onthou ook dat dit nie hier daaroor gaan om perfek te wees nie.
Nee, dit is eerder ʼn uitnodiging om ook in hierdie area van jou lewe die Heilige Gees toe te laat om die beheer te neem en om dan te kyk hoe Hy bonatuurlik wonderlike dinge in jou bankrekeninge en besighede gaan begin doen en ook sommer jou hart radikaal gaan begin verander!