Ons praat steeds oor die gelykenis van die oneerlike bestuurder in Lukas 16.
Miles Monroe het een maal gesê: “When the purpose of something is not understood, abuse is inevitable!”
Ek glo dit is die rede waarom soveel volgelinge van Jesus die “wealth” waarmee God hulle vertrou, nie reg gebruik nie.
Het jy geweet daar is ʼn onderskeid tussen “wealth” en rykdom?
Ek wil nou nie ʼn groot ding daarvan maak nie, maar “rykdom” in die Bybel het altyd te make met geld, terwyl “wealth” dui op dinge met intrinsieke waarde en wat ons kan koop met daardie geld. Soos eiendom, goud, silwer, ens.
Hoef ek vir jou te sê dat geld binne die finansiële sisteme van hierdie wêreld in baie gevalle minder werd is as die papier waarop daardie geld gedruk is!
Eers genoeg hieroor.
Kom ek gee vir jou 5 redes waarom die Here Sy kinders vertrou met “wealth”.
Die eerste en belangrikste rede waarom die Here jou en jou familie vertrou met “wealth” is om daarvan te saai in wat Matt. 7 noem, ʼn “hemelse rekening”, of anders gesê, in diens van die koms van die Koninkryk.
Sien, een van die redes waarom die Here vir jou “wealth” gee, is om dit weer “terug te kan saai” in die Koninkryk.
In die wyse hoe jy dit doen, en hoeveel jy daarvan gaan “terug saai” in die Koninkryk, gaan vir die Here jou hart wys. Dit gaan aandui wie jy regtig vertrou en wie werklik God in jou lewe is.
Jesus het mos gesê: Daar waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees!
Ons hart sal altyd ons motiveer om dit wat werklik vir ons belangrik is, na te streef en te doen.
Die volgende rede waarom die Here vir jou as Sy kind vertrou met “wealth” is om daarmee te sorg vir jou geliefdes en nageslag. Sien, ons God en Vader gee van harte om vir die welwese van Sy kinders en hulle nageslag.
1 Tim. 5:8 sê dit so duidelik.
“As iemand nie vir sy eie mense en veral nie vir sy huisgesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as 'n ongelowige.”
Met ander woorde, God wil dat Sy mense en hulle families in elke deel van hulle lewe werklik uit hulle skoene geseën word vir geslagte wat kom deur die “wealth” waarmee Hy ons vertrou.
Die derde rede is omdat God wil hê ons moet daarmee Sy bedoeling met ons lewe verwerklik.
Sien, die Here seën party mense met baie geld en baie “wealth” doodgewoon omdat Sy bedoeling met hulle lewens dit vereis. Dit is nie omdat hulle beter is as jy nie of omdat Hy vir hulle meer liefhet as vir jou nie. Dit is bloot omdat hulle meer geld en meer “wealth” nodig het om die dinge te doen en ʼn sekere lewenswyse te kan leef wat die deure oopmaak sodat hulle kan doen waarvoor hulle op hierdie aarde is.
Die vierde rede waarom die Here geld en “wealth” aan ons gee, is natuurlik om ander ook daarmee te kan help.
Daar is mos niks wonderliker as om ʼn seën in ander mense se lewens te kan wees nie!
Ons geld en “wealth” is nie bedoel om alles deur ons en ons geliefdes opgebruik te word nie. Ons is nie bedoel om net “consumers” hier op aarde te wees wat alles net op onsself spandeer nie!
Die laaste rede wat ek hier wil noem, is dat God ons geld en “wealth” gee om te geniet!
Prediker 5:18 in die Afrikaanse Bybel sê dit so duidelik: “God gee aan 'n mens rykdom en besittings en laat hom dit geniet. God laat die mens sy deel ontvang en sy werk met vreugde doen. Dit is 'n gawe van God.”
Het jy gehoor? Dit is ʼn geskenk van God aan ons! Met ander woorde, daar is niks verkeerd daarmee om die geld en “wealth” te hê en te geniet waarmee die Here jou en jou familie mee vertrou het nie.
Solank jy God se bedoeling met geld en “wealth” verstaan.