Wat is die rol van geld in diens van die koms van die Koninkryk?

Onthou jy nog die gelykenis van die oneerlike bestuurder wat Jesus daar in Lukas 16 van vertel het?

Kom ek haal vir jou net so ʼn paar verse daarvan aan:

“En Ek sê vir julle: Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak sodat wanneer die geld nie meer kan help nie, hulle julle in die ewige wonings sal ontvang.

Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik.

As julle dan nie betroubaar is in die hantering van die oneerlike mammon nie, wie sal die ware rykdom aan julle toevertrou?”

Ja, sê Jesus: Uit hoe ons geld en die “oneerlike mammon” hanteer, gaan duidelik word wie eintlik God in ons lewe is en waarin ons werklik ons sekuriteit vind.

Want, sê Hy: “Geen huisbediende kan vir twee base tegelyk werk nie, want hy sal of die een minder ag en die ander een hoër, of vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”

Kan ek vir jou ’n persoonlike vraag in die verband vra:  Praat jy van geld in jou bankrekening as “jou geld”?

Dit mag jou dalk verras om uit te vind hoeveel keer God in Sy Woord oor geld praat, maar nêrens praat God in die Bybel oor “jou geld” of “jou finansies” nie!

Inteendeel. Dit is baie duidelik uit die Woord dat dit taal is wat die wêreld en die wêreld se sisteme gebruik as hulle hieroor dink en praat.

Die rede waarom hulle so dink en so praat daaroor is omdat hulle onder die beheer is van ʼn demoniese mag met die naam, Mammon, sê Jesus aan ons.

Mense wat onder Mammon se beheer is, is gulsig en gierig en wil soveel as moontlik bymekaar maak “vir hulle self”.