Hoe jy jou geld hanteer, gaan bepaal waarmee die Here jou gaan vertrou

 

ʼn Gelykenis wat my elke keer skud as ek dit lees, is die gelykenis oor die “oneerlike bestuurder” van Lukas 16. Gaan lees gou daardie gelykenis van vers 1 tot 15. (https://www.bible.com/bible/3499/LUK.16.AFR20)

Die sleutel tot hierdie gelykenis staan natuurlik in vers 9 tot 13.

Net vir duidelikheid, die uitdrukking “oneerlike Mammon” in hierdie gedeelte dui op “geld”, hoe ons geld gebruik, wat ons met geld kan koop, en hoe ons dink oor geld. Dit wys duidelik vir ons of ons “lief is vir geld” en of ons onder die beheer van Mammon is. (Kyk vers 14)

Dit in gedagte, lees weer vers 9 tot 14 en luister wat die Koning van alle konings hieroor sê.

Laat ons nie doekies hieroor omdraai nie: Hoe en watter deel van jou inkomste elke maand in jou persoonlike begroting, in jou besigheid, of boerdery, se begroting gegee word “vir die Here” en gegee word in diens van die koms van die Koninkryk, wys vir Koning Jesus wie werklik jou God is en wie jy werklik vertrou.

Ja, of jy glo dat die God van die Bybel werklik jou God en “Totale Voorsiener” is, en of jy eerder op Mammon en sy beloftes oor die verskil wat geld in jou lewe kan maak, vertrou.

Kom ons luister nou weer ʼn keer na wat hier staan:

“Ek sê vir julle, ‘Maak vir julle vriende deur middel van die oneerlike Mammon, sodat, wanneer dit tot 'n einde kom, hulle julle in die ewige wonings mag ontvang.’

Wie in die geringste betroubaar is, is ook betroubaar waar dit om baie gaan, en wie in die geringste oneerlik is, is ook oneerlik waar dit om baie gaan.

As julle dan nie betroubaar was wat die oneerlike Mammon betref nie, wie sal julle met die ware rykdom vertrou? En as julle nie betroubaar was met 'n ander se goed nie, wie sal vir julle gee wat julle toekom?

Geen huiskneg kan twee base dien nie, want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”

Wel, as dit jou nie ook skud nie, dan weet ek werklik nie!