Die Woord, ook oor die Koninkryk, is soos saad wat gesaai word

Hoe goed ken ek en jy nie hierdie gelykenis wat Jesus daar in Mat. 13 aan ons as Sy volgelinge vertel.

“’n Saaier het eendag gaan saai.”

Daardie saad het op verskillende plekke val: op die pad; op klipbanke; tussen onkruid; en dan ook in goeie grond.

Dan verduidelik Jesus hierdie gelykenis daar van vers 18 af in Mat. 13.

Hy sê onder andere dat “die saad” die “woord van die Koninkryk” is.

Dink ’n oomblik hieroor na: Die “saad” wat die Here God deur die werking van Sy Gees deur my en jou en ons getuienis elke dag saai, is die Goeie Nuus dat God se Koninkryk ook hier op aarde besig is om deur te breek en dinge en mense verander!

Ja, en omdat dit wat Hy hier vertel so belangrik is, vertel Hy nog ’n gelykenis hieroor in daardie selfde hoofstuk in Mat. 13, daar van vers 24 af, as Hy sê:

“Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met ‘n man wat goeie saad op sy land gesaai het.

Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn.”

Soos ek gesê het, verduidelik Jesus die gelykenisse as Hy daar in vers 37 en 38 byvoorbeeld sê:

“Jesus antwoord: ‘Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens. Die saailand is die wêreld. Die goeie saad, dit is die mense van die koninkryk; die onkruid is die aanhangers van die Bose.”

Onmiddellik met hierdie verduidelikings maak soveel dinge skielik sin. Ja, al is Jesus self die Saaier, gebruik Hy die “mense van die Koninkryk”.

Met ander woorde, waar ek en jy as Sy gehoorsame volgelinge, in gehoorsaamheid aan Koning Jesus, maar net doen wat Hy as Koning self aan ons sê, daar gebeur iets merkwaardig.  Daar word wat ons doen of sê in gehoorsaamheid, “Woord” van die Koninkryk en ’n persoonlike “Woord” van die Koning in hierdie Koninkryk.

Miskien het jy dalk beleef om iemand te bel, of by iemand ’n draai te gaan maak, of om vir iemand te gaan bid, of vir iemand te gaan bemoedig, of ’n woord te gaan gee wat jy beleef het die Here jou aangesê het om vir hom of haar te gaan gee. Ja, wat ookal jy in gehoorsaamheid aan die stem van die Koning gaan doen of gaan sê, daar word dit “saad” in die hand van die werklike Saaier, naamlik Koning Jesus self. Daar kom Hy self aan die woord, en daar word jy Sy hand of Sy mond, of Sy arms, of Sy voete. Daar kom en gebeur iets van die Koninkryk van God hier op aarde, midde al die stukkendheid en gebrokenheid.

Daardie “saad” wat so gesaai word, het nie oral dieselfde effek of uitwerking of groei nie. Dit hang uitsluitlik af van die ontvanklikheid en oop-wees van die mens of mense waar daardie “Woord” gesaai word.

Wat vir my en jou van belang is, is om maar net gehoorsaam te wees aan die stem van die Koning en om presies te gaan doen en presies te gaan sê wat Hy jou beveel het.