Strome lewende water sal uit hulle binneste vloei…

Daar in Johannes 7, vers 37 en 38, kry ons seker een van die mees aangrypende beskrywings van ʼn gelowige volgeling van Jesus in wie se lewe die Gees van God in beheer is.

Kom ek haal dit vir jou aan.

“Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: ‘As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!

Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’”

Watter voorreg is dit om so gereeld mense te ontmoet wat hulle vasgeloop het teen ʼn Lewende Opgestane Jesus. Ja, daardie selfde Jesus wat vir die Samaritaanse vrou daar by die put in Johannes 4:13 en 14 die volgende gesê het:

“Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ‘n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.”

So ʼn mens is mos net anders, lyk net anders en praat net anders as ander mense! ʼn Mens sien daardie nuwe blink en lig in hulle oë as hulle na jou kyk! Jy sien en hoor die borrel van daardie “nuwe fontein” wat hier van binne uit hulle opborrel!

Het jy opgemerk hoe maklik hulle tranerig raak; ja, amper tot hulle eie verbasing en verleentheid, want dit is nie hoe hulle hulself ken nie!

Hoe kan dit dan anders!

As jy by Jesus self die water gevat het wat Hy vir jou aanbied en dit gedrink het, gebeur daar mos iets met jou! Behalwe dat hierdie water daardie gedurige, ewige dors hier binne in jou onmiddellik stil, gebeur hier iets in jou binneste en jy kan nie anders as om daaroor te wil praat met ander nie!

Dit maak ook dat ander mense rondom jou gedurig na jou toe kom en naby jou wil wees! Hulle geniet dit om in jou geselskap te wees!

Baie keer weet hulle nie eintlik hoekom nie, want jy is net so anders en eintlik ʼn bietjie “weird”, as hulle moet eerlik wees!