As Jesus Homself vergelyk met “die weg”, “die waarheid”, en “die lewe”

Die vorige keer het ons aan mekaar gesê dat ʼn totaal nuwe bedeling wat as die “Koninkryk van God” beskryf kan word, ook hier op aarde aangebreek het met Jesus se koms, Sy lewe, Sy kruisiging en Sy opstanding.

In Johannes 14:6 en 7 vergelyk Jesus Homself en alles wat Hy verteenwoordig, soos volg:

“Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”

“Ek is die weg”, sê Jesus.

In Joh. 10:9 sê Hy in die verband: “Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry.”

Met ander woorde: Jesus die Christus, is die enigste pad na God die Vader toe.

Wat in gewone Afrikaans beteken: Net die mens wat aanvaar en glo dat Jesus God die Seun is wat ʼn mens geword het, om as die Vlekkelose Lam, sonder enige sonde, vir my en jou die Perfekte Pasga-lam te wees om vir ons sonde geoffer te word en so die volle prys betaal het sodat ʼn Heilige God jou kan vergewe en ook jou as Sy Kind kan aanvaar, net daardie mens word gered en sal nie verlore gaan nie, want hulle het die pad ontdek terug na God toe.

Net mense wat dit glo oor Jesus, het ontdek dat Jesus werklik die Deur is na die enigste ware God toe.

“Ek is… die waarheid!”

Net hierdie Jesus, alles oor Hom gesê word en alles wat Hy vir ons gesê het volgens Sy Woord, die Bybel, is die beliggaming van die “waarheid”!

Oor hierdie “waarheid” wat ons in hierdie Jesus ontdek, sê God in Sy Woord verder:

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.” (Joh. 1:14)

“God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.” (Joh. 1:17)

“En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” (Joh. 8:32)

“Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei.” (Joh. 16:13)

“En Ek is… die lewe!”

“Toe sê Jesus vir haar: "Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?" (Joh. 11:25,26)

“’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” (Joh. 10:10)

“Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.” (Joh. 20:31)

Verstaan jy nou hoekom God in Sy Woord sê dat elkeen wat nie in Jesus glo nie, dood is?

Hoe goed onthou ek hoe Oom Chris-Johan Fourie, wat ek in Switserland by CEF se Europese Hoofkwartier in Kilchzimmer leer ken het, vir ons elke keer twee foto’s van elkeen van sy 70 aangenome kinders oral oor die wêreld gewys het: Een van die foto’s was hoe “dood” daardie kinders se oë gelyk het voor hulle bekering, en dan ʼn foto van hulle na hulle bekering, waarin jy dan letterlik die “nuwe lewe” kan sien!