Die “Koninkryk van God” as ʼn gelykenis

Die “eerste preek” wat Jesus in die openbaar bedien het, was volgens Markus 1:15, die volgende:

“Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”

Kom ek probeer om dit ʼn bietjie anders te sê wat ons kan help om beter te verstaan wat Jesus hier sê.

Die “tyd”, of nuwe seisoen, of nuwe bedeling, wat aangebreek het, kan omskryf word as alles wat rondom Jesus gebeur het met Sy koms, Sy lewe, en veral Sy kruisiging, sterwe en opstanding uit dood.

In hierdie gebeure of “tyd”, het “die koninkryk van God” hier by ons op aarde begin deurbreek en het ʼn totaal nuwe bedeling hier op aarde begin gebeur.

Dit is die hart van “die evangelie”, die goeie nuus!

Omdat dit die hart is van wat in hierdie “tyd” gebeur het, vereis dit van elkeen van ons wat dit werklik glo en verstaan, “bekering”, ʼn totale omkeer en ʼn radikale lewensverandering!

Dit beteken dat met alles wat in en rondom Jesus gebeur het, in alles wat Hy vir ons kom sê en leer het, en in alles wat Hy gedoen het, soos die wonderwerke en genesings wat Hy gedoen het hier op aarde, dit vir ons iets wys van hoe dit is en lyk as die koninkryk van God en die Koninkryk van die hemel hier op aarde, midde al die stukkendheid en gebrokenheid, begin deurbreek.

ʼn Mens kan selfs sê dat in daardie sin was die gebeure soos Jesus se kruisiging, Sy dood en dan veral Sy opstanding uit die dood, in werklikheid die kroning van die nuwe Koning, Jesus Christus.

Deur Jesus uit die dood op te wek, het die Vader in die openbaar verklaar: Hy is My geliefde Seun!

Hy is in hierdie “tyd”, in hierdie nuwe bedeling, die Nuwe Koning.

Voor Hom sal elke knie buig en elke tong moet bely… dat Hy die Nuwe Koning op aarde is!