Die Koninkryk van God is soos… om uiteindelik tuis te kom

Kan ek jou herinner aan een van die mees bekende verse in die Bybel, wat die meeste Afrikaanssprekendes seker darem uit hulle kop kan aanhaal?

Ja, Johannes 3:16!

“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

Het jy gehoor hoe hierdie vers vir elke mens op hierdie aarde sê dat die God van die Bybel hulle liefhet! Ja, dat Hy van die begin af, voordat Hy enigiets anders wat bestaan geskep het, hulle so liefgehad het dat Hy reeds daar besluit het om God die Seun ʼn gewone mens te laat word en Sy lewe te gee as versoeningsoffer vir hulle sondes, sodat nie een van hulle verlore hoef te gaan nie, maar die ewige lewe kan hê!

Sit nou maar jou eie naam (of enige ander naam van ʼn geliefde of van die persoon aan wie jy dink) in Johannes 3:16 in waar “die wêreld” staan, en dan lees jy dit weer hardop!

Hoor jy wat God oor jou (of daardie ander persoon) sê?

Nou ja, met dit in gedagte, gaan lees nou daardie gelykenis wat Jesus vertel het daar in Lukas 15.

Elkeen van ons (en elke mens aan wie ons kan dink), is of was hierdie “verlore seun” van wie Jesus hier vertel.

Hoor en sien jy hoe God die Vader heeltyd sit en wag en verlangend uitkyk vir “verlore” seuns en dogters wat op die een of ander stadium in hulle lewe tot inkeer en tot bekering sal kom en sal kies om terug te gaan “huis toe”, na die Vader toe wat wag!

O, hoe sien Vader nie uit om mense met oop arms terug te verwelkom by Hom nie!